Mila spring uit die bed. “Mamma maak nie reg nie! Ek wonder heeldag waar Mamma is! Hoekom los Mamma nie ten minste ’n boodskap nie?” vra Mila ontsteld.

“Van wanneer af werk dit nou so, Mila? Ek kom en gaan nog altyd soos ek wil!” sê Leoni verbaas.

“Ja, Mamma, maar toe was ek omring deur huispersoneel. Hier is ek alleen!” sê Mila na aan trane en vervolg: “Toe was my pa nie dood nie. Hoe weet ek Mamma lê nie ook iewers dood nie?”

“Mila, nou is jy verspot! Waar is Montaldo?” vra haar ma.

“Hy het my gelos omdat ek nie meer in sy groep inpas nie! As Mamma in my belanggestel het, het Mamma geweet ek tjank al van laas Sondag af oor hom, al weet ek hy is dit nie werd nie! Mamma weet niks van wat met my gebeur nie! Mamma gee ook nie om dat ek nie kos of geld het om iets te gaan koop om te eet nie!” Mila is baie kwaad en sy gil byna op haar ma.

“Hoe moet ek dit alles weet as jy dit nie vir my sê nie?” verdedig haar ma flouerig.

“Ag, los dit net!” sê Mila moedeloos en slaan die deur agter haar toe.

Elfuur die volgende oggend kom Mila se ma uit die kamer, klaar gebad en aangetrek. “Kom ek en jy gaan eet by die Waterkant,” stel sy vriendelik voor.

Mila weet sy voel skuldig oor alles wat die vorige nag gesê is. “Dit klink great, dankie,” aanvaar sy die uitnodiging.

Op die ou end word dit ’n lekker uitstappie. Hulle ry ’n bietjie rond nadat hulle geëet het. By Bloubergstrand koop hulle roomys en stap ’n ent langs die see.

“Mila, ek en jy weet ek is nie ’n cool ma nie. Jy moet vrede maak daarmee dat ek nooit die soort ma sal wees wat na jou geheimpies sal luister nie. Dit is nie ek nie,” sê Leoni toe hulle later terugry huis toe.

“Ek verwag dit nie, maar vra net nou en dan of ek nog skop en of ek nog oorleef. Koop net vir my kos!” sê Mila moedeloos en sug.

“Goed, goed. Ons sal môremiddag gaan kos koop!” paai Leoni effens ongeduldig.

“Mamma, kan ek iemand gaan sien?” vra Mila na ’n rukkie. “Ek bedoel iemand soos ’n sielkundige? Andrea sê sy dink ek moet iemand gaan sien soos haar ma se vriendin, Erica, wat ’n sielkundige is, om oor al my issues te praat,” verduidelik Mila.

“Jy kan seker maar gaan. Het jy regtig soveel issues?” vra haar ma. Mila kyk net oopmond na haar ma. Weet sy dan niks van haar af nie? Sien sy nie hoe moeilik dit vir haar is om te cope nie? Haar pa is dood, tel dit nie dat sy voel alles is net te veel nie? Hulle ry verder in stilte. Mila besef maar net weer dat sy en haar ma mekaar skaars ken.

“Dankie, dit was ’n nice dag, Mamma,” sê Mila toe hulle by die woonstel stilhou. “Dis vir my lekker om iets saam met Mamma te doen,” sê Mila ingedagte. Mila weet sy bedoel dit, want sy wil so graag ’n goeie verhouding met haar ma hê.

“Ek is bly dit was vir jou lekker,” sê haar ma en vir ’n oomblik voel Mila daar is dalk hoop. “Ek gaan netnou ’n bietjie na Rika se huis toe. Sy het my genooi vir koffie. Jy moet jouself maar vermaak, Mila,” sê Leoni toe hulle die woonstel binnestap. Na die dag se uitstappie voel Mila heel positief oor haar ma se uitganery.

“Ek sal gaan kyk wat Paul doen,” sê Mila vinnig.