“Wie is Paul?” vra haar ma nuuskierig.

“Dis ’n outjie omtrent so oud soos ek hier onder in nommer ses. Hy is baie gaaf, maar weird. Sy pa is blykbaar baie weg. Hy’s ’n musikant. Dis hy wat so viool speel. Hy speel glo in die middag van twaalf tot twee by die Purple Lounge klavier,” sê Mila.

“O, dis interessant,” sê haar ma terwyl sy vars grimering aansit. “Ek gaan nou,” sê sy oomblikke later vir Mila en waai vir haar ’n soen. Hoe lekker sal dit nie wees as sy my weer ’n bietjie vasdruk soos toe ek nog klein was nie, dink Mila hartseer.

Paul maak die deur oop toe sy klop. Hy lyk ’n bietjie verwaaid.

“Sorry, het jy geslaap?” vra Mila verskonend.

“Ja, maar ek wou lankal wakker gewees het. Kom in,” nooi hy. “Koffie of sap?”

“Sap klink lekker, dankie,” antwoord Mila en vervolg dan: “Wat doen jy gewoonlik op ’n Sondag?”

“Dit hang af, maar saans gaan ek altyd kerk toe, ek gaan vanaand ook. Is jy lus om saam te kom?”

Mila weet nie of sy regtig lus is nie, maar wat kan sy verloor? Nog ’n vervelige aand alleen in die woonstel klink ook nie vir haar lekker nie.

“Oukei, ek sal gaan,” sê sy dan.

Mila kan nie onthou wanneer laas sy in die kerk was nie. Behalwe natuurlik met haar pa se begrafnis. Die dominee se teksvers is Jesaja 50:6-7: “Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie. Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.”

Die dominee se preek gaan daaroor dat ’n mens soms voel alle slegte dinge gebeur met jou. Jy voel dat alles van jou weggeneem word wat jy kosbaar ag, maar die Here het ’n doel met alles. Al sien jy nie nou waarom alles gebeur nie, is alles tot jou voordeel. “Bly glo in God se goedheid en jy sal nie teleurgestel staan nie, moet julle dus nie ontstel nie,” sluit hy af.

Dis vir Mila of die preek spesiaal vir haar uitgewerk is! Na die diens sê sy dit vir Paul.

“God weet van jou, Mila, ek het jou mos gesê!” antwoord hy sonder verbasing. Mila skud haar kop in verwondering …

Toe sy later in haar bed lê, praat sy vir die eerste keer in ’n lang tyd met die Here. Sy vra dat Hy haar moet vashou en nie weer moet los nie en ook vir haar ma. Mila voel of sy ’n geheime vriend gevind het. Sy onthou die dominee het gelees sy sal nie teleurgestel staan nie. Toe slaap sy vir die eerste keer in dae met vrede in haar hart.