maandag bel mila vir andrea.

“Jy het gepraat van jou ma se vriendin wat ’n sielkundige is,” sê-vra Mila.

“Ja, haar naam is Erica Saayman, en sy’s so cool, jy sal nie jammer wees dat jy na haar toe gegaan het nie,” antwoord Andrea.

“Kan jy vir my ’n afspraak maak? So gou as jy kan, asseblief,” vra Mila dringend.

Andrea bel gou terug. “Jy kan sommer môre na skool al gaan. My ma sal jou by haar gaan aflaai as jou ma jou sal kom haal,” stel Andrea voor. Mila bedank haar vir die guns en beëindig die oproep.

Erika is amper so oud soos haar ma, dink Mila. Sy is ’n mooi en simpatieke vrou met groot bruin oë. Dit voel sommer gou vir Mila of sy haar al jare ken. Mila vertel haar alles wat gebeur het, van haar probleme met haar ma, van haar gevoelens, haar woede en ook wat sy in die kerk ervaar het.

Erica verduidelik aan haar dat daar verskillende stadiums van rou is. Ook ’n tydperk van woede.

“Dit is nie verkeerd om kwaad te wees nie, Mila,” sê Erica. “Dit is ook goed om te huil en dit is reg om te verlang. Iemand wat gesterf het, verdien ook ons trane. Hulle was mos vir ons belangrik!” sê sy met ’n glimlag.

Hulle gesels saam oor die probleem met haar ma en oor Mila se gevoelens oor Jesus. Mila verduidelik vir haar hoe graag sy een laaste keer met haar pa sou wou praat en hoe hartseer sy is dat sy dit nooit sal kan doen nie.

Erica kyk haar reguit in die oë en sê: “Daar is tog iets wat jy kan doen. Skryf vir hom ’n brief en stort jou hart uit. Dit werk, jy sal sommer beter voel. Daar is maniere om jouself te bedrieg, sodat jy voel jy het dit vir hom gesê.” Mila het nog nie daaraan gedink nie en sê dat sy dit beslis sal doen.

“Kom gerus weer as jy nog met my wil praat, jy is altyd welkom,” sê Erica toe hulle groet.

Daardie aand skryf Mila haar brief vir haar pa. Sy sit eers lank met die papier net so voor haar, pen in die hand. Dan begin sy skryf:

Liefste Pappa

Ek wens ek het jou so genoem toe jy nog hier was. Nou is jy dood en ek wonder hoekom het ons nooit gepraat nie.

Ek weet niks van jou af nie. Het jy rugby gespeel op skool? Of dalk krieket? Van watter kleur het jy die meeste gehou? Seker blou, want baie van jou goed was blou. Hoeveel meisies het jy gehad, voor Mamma? Wou jy net een kind gehad het en wou jy liewer ’n seun gehad het? Dit alles en nog meer wil ek vra, maar jy kan dit nie nou meer antwoord nie.

Ek wil ook vir jou sê ek was regtig lief vir jou, al het ek dit amper nooit gesê nie! Ek is nie kwaad oor die geld wat ons verloor het nie, net oor die Here jou weggevat het. Ons het nooit daaroor gepraat nie, maar ek hoop Jesus was jou Verlosser.

Ek glo ook nie jy het selfmoord gepleeg of dat jy ’n skelm was, soos sommige mense sê nie. Jy was dan my pa!

Ek verlang baie na jou!

Baie liefde

Mila

NS. Ek het nooit regtig genoeg dankie gesê vir die mooi hangertjie van Kersfees nie, maar veral dit wat Pappa toe gesê het, sê ek voor dankie.

Mila vee die trane van haar wange af, vou die brief mooi op en bêre dit diep onder in ’n laai. Dalk sal sy nou beter voel, dink sy.