“Ek kan nie glo jy het kom kuier nie!” sê Mila vir Cynthia, wat op die rusbank sit met ’n koppie tee wat Sara gemaak het. Sy is totaal verras toe sy haar op ’n Vrydag na skool hier by Sara in die woonstel aantref.

“Ek het mos gesê ek kom. Sara, bak jy nie eers scones vir die huis nie? Kyk hoe maer is die kind, sy kry seker nie kos nie!” berispe Cynthia vir Sara.

“Werk jy lekker, Cynthia?” wil Mila dadelik weet.

“Ag, dis seker oukei. So oukei as wat dit by privileged mense kan wees,” sê Cynthia en hou haar koppie na Sara uit vir nog tee.

Cynthia is hier deur en deur die kuiergas, dink Mila en wil stik van die lag. Sy sit uitgechill op die rusbank met Queenie op haar skoot en maak dit duidelik dat Sara hier werk en sy ’n kuiergas is. Of Sara so in haar skik is met die toedrag van sake, weet Mila egter nie, maar sy bly stil daaroor.

“Montaldo het ’n nuwe girl. Sy het so ’n wilde bos rooi hare, ’n lyfie wat lyk of sy in hongersnood was en ’n tan waarmee sy in enige squatter camp kan inblend. En tog so vol sights!” vertel Cynthia met smaak. Mila lag so vir die vertelling dat sy vergeet om ongelukkig te voel oor Montaldo. Sy het tog geweet hy gaan gou iemand anders kry, dink sy en sy voel ’n klein stekie in haar hart.

“Vertel eers wat alles hier gebeur,” sê Cynthia en vryf Queenie so woes dat sy weet nie of sy moet spring of spin nie.

Mila vertel alles van haar ma se vriendskappe, die laat uitbly, die kos wat eers hierdie week aangevul is, van Savvas en Pano by die viswinkel en van Paul en die kerk.

“Is dit nou nie good news nie, Mila? Toe stuur die liewe Vader vir jou ’n engel, dis so special! Ek hoop die kerktoeganery word ’n habit! Wanneer sien ek die engel?” vra Cynthia.

“Ons kan soontoe gaan, dalk is hy daar. Hy is ’n vreemde soort outjie, ek ken nie sulke ouens nie. Hy is eerlik sonder om te worry wat ek van hom gaan dink,” sê Mila en vertel vir Cynthia wat hy van die herinnering aan sy ma met die spookasem gesê het. “Ouens van my ouderdom is so bang om face te verloor, hulle sê nie sulke goed nie.”

“Maar dis hoeka oorlat hy ’n engel is, hulle is anders,” sê Cynthia oortuig van haar storie.

“Mila, daar’s ’n paar goedjies in die kombuis wat ek vir jou in die Pietersielies se kombuis gemaak het. ’n Paar van die ou lekkernytjies wat jy van hou. Fudge en koekies en ’n chocolate-koek,” sê Cynthia met smaak.

“Dankie, Cynthia, maar jy kan mos nie die Putchelli-kombuis hijack nie. Dis darem na aan steel!” protesteer Mila.

“Steel se voet. Daardie mannequin het gedurig jou pa se kos geëet. Payback time!” sê Cynthia beslis. Mila loer by die kombuis in. Daar staan drie houers vol koekies en fudge en ’n yslike koek!

“Cynthia, wie gaan dit alles eet?” vra Mila verstom.

“Jy natuurlik, jy is al so onmenslik dun,” antwoord sy en vervolg: “Sara, maak nog tee. Ons gaan nou eers die engel groet en hom saambring vir tee.” Daarmee staan sy op en beduie Mila moet kom.

“Paul, hierdie is nou Cynthia,” stel Mila haar voor toe Paul die voordeur vir hulle oopmaak.