“En jy is die engel. Ek weet sommer jy is meer as ’n mens. Die liewe Vader het jou na Mila toe gestuur om haar op die regte pad te kry! Staan, laat ek sien hoe jy lyk,” sê Cynthia en loop al om Paul om hom te bekyk. Paul het vir seker nog nie iemand soos Cynthia ontmoet nie. Sy mond hang behoorlik oop.

“Ja, hy is ’n engel, want sy oë weerkaats die lig! Wil jy nou meer? Kom ons gaan drink tee,” verklaar sy dan en begin terugloop na Mila-hulle se woonstel. Paul kyk vraend na Mila.

“Sy het jou kom haal om te kom tee drink, Engel!” spot Mila met ’n giggellag.

“Gee vir Mila en die engel van die chocolate-koek, Sara. Ek het dit nie verniet gebring nie!” beveel Cynthia toe sy hulle die woonstel inlei.

“Oukei, ou raasbek, ek sal gee,” kap Sara terug en almal lag vir Cynthia se ontsteltenis dat Sara haar ’n raasbek durf noem.

“Nouja, ek moet vir my ’n taxi gaan vang. Die tee is nou lekker en als, maar ek moet darem weer my huis ook kry. Engel, kyk mooi na my baby! Mila, moet asseblief nie meer oor spilt milk tjank nie, anyway, sometimes it’s good riddance!” Cynthia druk Mila styf teen haar moederlike lyf vas en dan is sy weg.

“Wow,” sê Paul net, nog steeds verdwaas, want so iets het hy nog nie beleef nie.

“Paul, jy is reg, sommige mense laat hulle nie verloor nie,” sê Mila terwyl sy stip na die deur kyk waardeur Cynthia nou net verdwyn het.

“Gaan fliek saam met my,” sê Paul ’n rukkie later.

“Dit sal lekker wees, maar hoe kom ons daar?” antwoord Mila.

“My pa kan ons aflaai net voor sewe en hy maak vanaand halftwaalf klaar. Dan kry hy ons weer op pad huis toe. So, ons kan nog iets gaan eet ook na die fliek,” verduidelik Paul.

Dit is vir Mila lekker om vir verandering iets op ’n Vrydagaand te doen. Sy is sommer gou in die bad. Sy trek ’n kort, wit rompie aan, ’n swart-en-wit hempie en swart sandale met dun bandjies. Na sy haar grimering aangesit het, lyk sy vir haarself regtig goed. Sy doen min moeite met haarself deesdae en sy weet dit is verkeerd. Al gaan jy nêrens heen nie, moet jy vir jouself moeite doen. Dit is belangrik vir jou selfbeeld.

Haar ma kom huis toe net voor sy klaar aangetrek is. Sy kom self ook net ander klere aantrek om uit te gaan. “Jy lyk mooi, waarheen gaan jy?” vra haar ma.

“Ek gaan saam met Paul fliek toe. Sy pa vat ons,” verduidelik Mila.

“Lyk my jy en dié Paul het iets aan,” sê haar ma en glimlag beterweterig.

“Nee, glad nie. Paul is een van daardie outjies wat jy ontmoet en jy weet friends forever,” sê Mila, seker van haar saak.

“Oukei dan, geniet julle fliek,” sê sy, dadelik verveeld met die onderwerp, en verdwyn by die badkamer in.

Toe sy later die deur vir Paul oopmaak, skud hy sy kop. “Ek het geweet jy is mooi, maar eintlik is jy stunning!” sê hy op sy eerlike manier.

“Dankie, dis nice van jou om dit te sê!” antwoord sy gelukkig.