Dit is vir haar lekker om Paul se pa, Diederich, te ontmoet. Alles aan hom is sag, dink Mila. Hy is ook so ’n sagte ou soos Paul met sagte oë en ’n sagte stem. Al is dit net Paul en sy pa in hulle gesin, is daar so ’n nice vibe tussen hulle, Mila raak skoon jaloers. Kon ek maar so ’n lekker verhouding met my ma gehad het, dink sy hartseer. Paul se pa het ’n aandpak aan, want hy speel vanaand viool by ’n privaat funksie by Memories en hy lyk vir Mila baie cool en aantreklik.

“Is julle reg om te gaan?” vra Paul se pa en hou die deur vir hulle oop.

“Dankie, Oom,” sê Mila, “dis gaaf van Oom om die draai te ry om ons af te laai.”

Na die fliek gaan hulle by die Lido eet. Paul se pa het laat weet hy is ’n bietjie laat. Toe hulle uiteindelik by die huis kom, gesels sy, Paul en sy pa nog vir omtrent ’n uur terwyl Paul se pa vir hulle koffie maak en van sy aand vertel. Haar ma het ook eers weer in die oggendure ingekom en soveel geraas dat Mila net moes wakker word.

Mila is weer vroeg by Catch-a-Bite. Sy het moeilik opgestaan, want hulle het laat in die bed gekom. Savvas is in ’n vrolike bui. “Haai, Mila, hoe’s dinge?” vra hy.

Mila lag. “Jy praat al nes die Kapenaars, my bra,” sê sy en giggel.

“Jy moet met my spot, girlie,” sê hy en wys vir haar vinger.

Hulle word gou besig en skielik sien Mila ’n bekende gesig voor haar.

“Mila, wat soek jy hier van alle plekke?” Dis Riaan Moller wat voor haar staan.

“Ek werk Saterdae hier. Wat maak jý hier?” vra Mila en probeer lighartig klink.

“Ons wil vanmiddag op die strand gaan vis braai, maar wat doen jy in so ’n plek? Ek kan nie glo jy verlaag jou so om hier te werk nie!” sê Riaan weer en trek sy neus op.

Dis toe dat Savvas tussenbeide tree: “Man, normale teenagers het jobs. Dis haar Saterdag-job, sy like dit, ons like haar hier. Wat is jou probleem, kort jy ook ’n job?” Savvas lyk sommer omgekrap.

Riaan vererg hom, draai net daar om en loop sonder vis. Die trane stroom oor Mila se wange. “Nou is jou customer weg,” sê sy vir Savvas.

“So what! Sy soort verkoop ek nie aan vis nie. My vis het … trots!” sê Savvas en lyk baie ingenome dat hy die woord kon onthou.

Die voorval maak tog vir haar ’n merk op die dag wat andersins so great was, dink Mila later.

Toe sy weer drieuur klaarmaak, gaan stort sy by die woontstel, trek vinnig ander klere aan, gee vir Queenie haar vis en gaan soek dan vir Paul. “Is jy nie lus om ’n koeldrank by die Waterkant te gaan drink nie? Ek is niks lus vir die woonstel nie,” sê Mila, alles in een asem.

“Dit klink nogal nice,” antwoord Paul. Terwyl hulle stap, gesels hulle oor elkeen se dag sover en Mila vertel vir Paul van Riaan.

“Weet jy, ek kan nie glo jy steur jou aan hom nie. Die stuk wat dominee Louis Els laas week gelees het, sê uitdruklik jy moet jou nie ontstel nie, jy sal nie in verleentheid kom nie. Vergeet hom, hy’s geskiedenis! Dis nie ’n skande om vir jou geld te werk nie!” sê Paul driftig.

“Ek weet!” keer Mila en vervolg: “Maar dis vir niemand maklik as jy sien iemand sien op jou neer nie, is dit?”