“Mense sien gereeld op my neer. Almal dink ek is weird, en ek het ook nie eintlik pêlle by die skool nie. Net ou Christo, maar hy is ook ’n bietjie van ’n freak. Eintlik glo ek hulle praat agter my rug van my as ’n nerd, maar so what? Dis hulle opinie. Ek dink party van hulle is ongelooflik ongeskik, en dis my opinie!” antwoord Paul.

“Pla dit jou nie om nie deel van die in groep te wees nie?” vra Mila.

“Nee, ek is tevrede met myself soos ek is. Ek ken myself, ek weet ek is nie wonderlik nie, maar ek is nie so sleg nie. Hulle kan tog ook wen deur met my vriende te wees. So, dalk is dit hulle verlies,” sê Paul.

“Hoekom het ek nog nooit vir Christo gesien nie?” vra Mila dan.

“Hy maak nie house calls nie, sê hy altyd. Weird!” antwoord Paul en skud sy kop.

Daar is baie mense by die Waterkant. Hulle loop ’n ruk lank rond en dan sien Mila vir Andrea en nog ’n paar meisies van die skool. Andrea kom dadelik na haar toe.

“Haai, Mila, ek wou jou nog vanmiddag bel om ons hier te kry, maar die reëlings het so vinnig gegaan en ons is net vir ’n kort rukkie hier. Ons gaan later op die strand braai,” maak sy ongemaklik verskoning.

“Andrea, dis cool, hoor! Moenie daaroor stres nie, ek verstaan. Dis moeilik vir jou en dis oukei, man, jy het nie ’n keuse nie. Die ander is ook jou vriende! Ek is anyway hier saam met Paul,” paai Mila en sy klink volwasse. Die afgelope paar weke het Mila vinnig laat grootword.

Andrea sien nou eers vir Paul raak. “O, hallo. Hoe ken jy vir Mila?” vra sy vriendelik.

“Ons deel ’n dak,” sê hy en as sy onbegrypend na hom kyk, verduidelik hy: “Ons bly in dieselfde woonstelblok.”

“O, dis gaaf! Ek is bly om julle te sien. Nou ja, geniet dit verder, ek moet nou loop,” sê sy dan en waai terwyl sy vinnig wegstap.

As hulle later elkeen met ’n melkskommel voor hulle sit, sê Mila: “Ek kry Andrea jammer. Sy wil eintlik graag my vriendin wees, maar sy weet nie mooi hoe om dit te wees en steeds Carmen-hulle as vriende te hê nie. Sy stoei met haar gewete, want sy is so gawe mens.”

“Ek verstaan nie hoekom sy nie net sê jy is haar vriendin en so be it nie!” sê Paul.

“Jy weet dis nie vir almal so eenvoudig nie, Paul. Sy gaan nog tot die einde van matriek saam met hulle skool en ek maak hierdie week klaar daar,” verduidelik Mila.

“Dalk is jy in my klas,” sê Paul toe hulle van die nuwe skool praat.

“Ek was nog my hele lewe in privaat skole, ek weet nie eers hoe julle skool werk nie. Jy sal hierdie vakansie vir my moet vertel wat ek kan verwag,” sê Mila.

“Behalwe vir die baie geld in die privaat skool, dink ek nie die verskil is so groot nie, maar dalk is ek verkeerd. In ons skool is daar net nie so baie geld vir duur toerusting en uitstappies nie,” meen Paul.

Teen skemer stap hulle huis toe. Op pad neem hulle twee DVD’s uit om die aand te kyk. Mila se ma is vir ’n wonder by die huis. “Ek het ’n kwaai hoofpyn ek gaan vanaand vroeg slaap,” sê sy en Mila sien haar ma voel regtig nie lekker nie.