“mila, ek moet met jou praat,” sê leoni die

Woensdag net na die begin van die Aprilvakansie. Sy lyk al minder depressief, maar is nog ver van gesond af, dink Mila.

“Kom sit hier voor my,” sê haar ma weer. Mila besef hier is iets gewigtigs aan die kom. Haar ma het nog nooit so ernstig gelyk as sy met haar praat nie. “Mila, jy weet ek het ’n niggie, Karen, wat in Muizenberg bly,” begin haar ma. “Ek het met haar gepraat en sy is bereid dat jy vir ’n ruk by hulle kan gaan bly.”

Mila se ore slaan toe, en sy voel naar en bewerig. Hoe kan haar ma haar net so weggee, sonder om eers met haar daaroor te praat! “Maar Mamma wou nooit iets met haar te doen gehad het nie! Het Mamma nie self gesê sy is low class nie? Mamma wil tog nie vir my sê hulle is oukei noudat Mamma niemand anders het om my voor te gee nie! Hoe kan ek by vreemde mense gaan bly?” kerm Mila en begin huil.

“Ek gee jou nie weg nie, Mila! Ek kan net nie met my lewe cope soos dit nou is nie. Ek kan nie nog jou ook as my verantwoordelikheid hê nie. Hulle is darem nie laeklas nie, ek was miskien ’n bietjie kras. Hulle beweeg net nie in dieselfde kringe as ons nie. Of liewer, as wat ons beweeg hét nie,” verduidelik haar ma.

“Hoe lank moet ek daar gaan bly? Wanneer moet ek soontoe gaan? Wat van Queenie? Wat van my werk en waar gaan ek skoolgaan?” borrel die vrae oor Mila se lippe.

“Ek dink juis dat jy nou na hulle toe moet gaan sodat jy daar kan begin skoolgaan en nie net ’n rukkie hier in die skool is en dan uitgehaal word nie. Ek sal jou Vrydag na hulle toe neem. Môre moet ons eers skoolklere vir die skool daar naby hulle gaan koop. Karen sê Queenie is welkom. Sy het ook ’n kat, maar jou werk sal jy eers moet bedank,” antwoord haar ma saaklik.

“Mamma antwoord my nie. Hoe lank moet ek daar bly? Kan ek kom kuier?” Mila se trane drup steeds op haar hemp.

“Natuurlik kan jy vir ’n naweek kom kuier, Mila, maar ek weet nie hoe lank jy daar sal bly nie. As ek net eers my lewe uitgewerk het, kan jy weer by my kom bly,” sê haar ma.

“Hoe gaan Mamma dit doen? Gaan Ma hulp kry met Mamma se depressie en wyndrinkery?” vra Mila. Sy voel glad nie positief oor haar ma se planne nie.

“Ek gaan vir dokter Karel vra om my na ’n sielkundige te verwys. Miskien moet ek ook na daardie Erica-vrou toe gaan by wie jy was,” sê sy dan en ignoreer Mila se verwysing na die drinkery.

“Hoekom kan ek nie hier bly terwyl Mamma beter word nie? Mamma gee tog nie veel aandag aan my nie, ek kan maar hier wees!” Mila kan steeds nie glo sy moet weereens alles verloor wat sy in ’n paar weke opgebou het nie. Sy moet weer ’n keer van voor af begin.

“Glo my, Mila, dit sal die beste vir ons al twee wees. Jy kort mense wat vir jou aandag gee en ek kort ruimte,” sê Leoni en kyk smekend na Mila. Sy skud egter net haar kop en loop by die deur uit.

[contact-form][contact-field label=”Naam” type=”name” required=”true” /][contact-field label=”Epos” type=”email” required=”true” /][contact-field label=”Webwerf” type=”url” /][contact-field label=”Message” type=”textarea” /][/contact-form]