“Kan ek vir Mamma iets bring? Wat van iets om te eet?” vra Mila besorg.

“Ek is vir eers reg. Dalk net ’n koppie tee as jy wil,” sê Leoni.

Mila maak dadelik die tee en bring dit vir haar ma. Sy haal twee hoofpynpille uit die houertjie en gee dit vir haar ma om saam met die tee te drink.

“Dankie, Mila, jy’s ’n goeie kind,” sê sy sag en maak haar oë toe. Mila wonder of sy reg gehoor het. Haar ma voel seker erg siek! Sy gee immers nie komplimente nie!

Hulle kyk die DVD’s by Mila-hulle se woonstel, want sy wil nie graag haar ma alleen los as sy nie lekker voel nie.

Die volgende oggend staan Leoni nie op nie, sy voel te siek. Mila bak vir hulle vis en maak ’n slaai daarby. Haar ma het egter nie lus vir kos nie en draai net om en slaap verder. Teen vyfuur kry Mila haar waar sy in ’n stoel voor die venster sit en huil. Twee uur later en na baie smeking van Mila se kant huil sy steeds. Mila gaan vinnig na Paul-hulle se woonstel.

“Is jou pa hier?” vra sy vir Paul. “Ek wil vir hom ’n bietjie raad vra,” sê sy.

“Ek is hier, ja,” antwoord die oom sommer self. “Wat is dit?”

Mila vertel kortliks hoe haar ma gereageer het vandat haar pa dood is en die geldprobleem. “Nou huil sy al vir twee uur en ek kry haar nie getroos nie.”

“Ek weet ook maar nie veel van sulke goed nie, maar miskien is dit vertraagde skok. Miskien het sy haar regte gevoelens weggeparty en gister het die werklikheid geweier om langer geïgnoreer te word. Ek dink sy besef nou eers regtig dat jou pa weg is,” sê oom Diederich.

“Ja, ek dink Oom is reg. Sy was eers briesend kwaad vir hom omdat ons nie meer geld het nie!” meen Mila ook nou.

“Gaan maak maar vir haar tee en laat haar huil, dis goed vir haar. My ma het altyd gesê mense wat kan huil, het ’n skoon binneste,” sê die oom en glimlag bemoedigend vir Mila.

Mila maak vir haar ma tee en roosterbrood, wat sy met ’n somber gesig eet. Die trane het vir eers opgedroog. Deur die nag hoor sy egter weer hoe haar ma huil en sy wens sy kan iets vir haar doen, maar sy weet dis onmoontlik. Rou is ongelukkig ’n eensame proses, besef Mila nou. Al wat sy kan doen, is om vir haar ma te bid terwyl sy na haar snikke luister.

Haar ma bly egter die hele week depressief en huil aanhoudend. Toe die naweek aanbreek, begin Mila soebat: “Mamma, dis vakansie. Kom ons ry iewers heen vir ’n dag of so, dit sal jou goed doen.” Haar ma is so ongelukkig, die woorde neem lank om tot haar deur te dring. Sy weier egter om êrens heen te gaan. Sy lê net op haar bed.

Maandag kom Rika daar aan. “Hoekom is dit so stil hier? Ek hoor die heel week niks van jou ma nie. Ek is so bekommerd,” sê sy toe Mila die deur oopmaak.

“Sy is baie depressief. Kyk ’n bietjie of jy haar beter kan kry,” sê Mila, dankbaar vir die moontlike hulp. Mila noem Rika nie tannie nie. Sy haat dit as mense dit doen.

“Nou toe, ou girl, wat is jou storie? Moet ons jou ’n bietjie mooi maak?” vra Rika vir Leoni toe sy by die kamerdeur ingaan. Mila drentel agterna.

“Kom ons was en blaas jou hare en jy trek iets moois aan, dan gaan ons koffie drink!” sê Rika op haar gewone oorredende manier. Haar ma het al gesê Rika kan varkvleis aan ’n Jood verkoop en hy sal glo dit is ’n winskoop!

Na ’n bietjie ferm mooipraat kry Rika dit reg om Leoni uit haar put te kry. Kort voor lank is hulle op pad na ’n koffiewinkel.

Mila gaan bekla haar lot by Paul.

“Heng, Paul, ek weet nie wat moet ek sê oor my ma nie. As sy so is soos nou, kan ek niks met haar praat nie. Ek is totaal moedeloos,” sê Mila en sug.

“Jy moet net glo dat die Here jou sal help, Mila. Hy werk mos met ’n amazing plan.”