“Jy sê God werk op ’n amazing manier, Paul. Jy droom, pêl! My ma stuur my nou weg om in Muizenberg by haar niggie te gaan bly en daar skool te gaan. By die niggie, haar man en drie kinders. Sy soek glo space om haarself te vind! Wat kan amazing wees daaromtrent?” vertel Mila ontsteld en deurmekaar vir Paul toe hy hulle voordeur vir haar oopmaak.

“Slow down. Waarvan praat jy nou?” vra Paul en lyk verward. Mila vertel die hele storie oor en huil onbedaarlik.

“Heng, Mila, ek wens ek weet hoekom dit alles gebeur, maar ek weet net jy moet bly vertrou op die Here. Bid elke dag. Ek sal ook bid dat Hy by jou sal bly en jou ma gou sal laat regkom. Hy werk soms op ’n weird manier en daar is iets specials in hierdie deal,” sê Paul en vat haar vertroostend aan die skouer.

Mila lag deur haar trane en sê: “Jy klink soos ’n sales rep vir die Here, Paul! Jy laat my amper koop wat jy sê!”

“Jy moet. Ek wil graag ’n sales rep vir Hom wees! Ek hoop darem jy gaan partykeer kom kuier, ek wil jou nie as pêl verloor nie,” sê Paul hoopvol.

“Ja, natuurlik. Dalk kom ek nog gou terug,” sê sy met ’n fyn, hartseer stemmetjie. “Ek moet nou na Savvas toe gaan om te sê ek sal nie meer kan kom werk nie. Wil jy nie saamkom nie?” vra Mila.

“Ek kry net gou my skoene, dan is ek by jou,” sê Paul.

“Ag nee, Mila! Jy kan nie weggaan nie! My customers het nou net begin meer word omdat hulle my blonde by die till smaak, nou los jy my weer!” kla Savvas. Hy lyk regtig teleurgesteld oor die nuus.

“Ek is so jammer, Savvas. Dit is nie my keuse nie. Ek kan darem nie van iemand verwag om my Saterdae van Muizenberg af hiernatoe te bring nie. Ek sal jou sommer vir die lekker kom help as ek die naweek hier kuier. Is dit reg so?” stel Mila voor. Sy weet sy gaan ook hierdie deel van haar nuwe lewe mis.

“Reg,” lag Savvas.

“Moet ons nou weer met Savvas se moods op Saterdae cope?” vra Pano kamtig vies.

“Hy belowe hy sal gawer met julle wees, nè, Savvas?” sê Mila en knipoog vir Savvas.

“Vir jou, Mila, anything!” sê Savvas gulhartig. Na almal se oor en weer groetboodskappies is Mila en Paul eindelik by die deur uit.

“Ai, dis vir my sleg!” sê Mila weer.

“Dalk word dit nog ’n nice experience!” praat Paul haar moed in.

“Ek twyfel!” sê Mila. Sy klink baie ongelukkig.

Donderdagoggend gaan koop hulle skoolklere. Mila was nog nooit minder lus om iets te doen nie. Sy sien haar ma voel skuldig, want sy probeer vreeslik hard om die oggend vroliker te maak. “Kom ons drink iets voor ons gaan klere soek,” sê sy en ry na ’n koffiewinkel in Langstraat wat hulle vroeër altyd besoek het. Dit voel vir Mila asof hulle lewe saam met hulle pa ’n eeu terug gebeur het, maar dit is net meer as twee maande gelede dat hulle nog saam in hulle mooi huis gebly het met oorgenoeg geld en geglo het hulle het geen probleem in die wêreld nie. Sy dink nou daaraan as haar eerste lewe. Die tyd in Groenpunt is haar tweede lewe en die lewe wat vir haar wag saam met die De Wets van Mosselstraat beskou sy as haar derde lewe.