Hulle drink elkeen ’n cappuccino wat met ’n klein ronde gemmerkoekie bedien word en gaan koop dan die skoolklere. Haar ma praat oor allerhande goed, maar Mila is min lus vir gesels. Na hulle die klere gekry het, stel haar ma voor dat hulle by Golden Shield moet gaan eet. Daar het hulle altyd die lekkerste Indiese kos geëet. Vandag smaak niks vir Mila lekker nie, sy wil net hoor sy hoef nie meer weg te gaan nie! dink sy.

Die middag bel sy vir Cynthia om te vertel dat sy nou in Muizenberg gaan bly en gee haar die adres.

“Well, I never! Het mevrou Leoni ’n niggie in Muizenberg? Hoekom weet niemand van haar nie?” vra sy.

“My ma het nie eintlik met hulle gemeng nie,” sê Mila versigtig.

“Jy meen hulle was eers te arm vir jou ma?” vra Cynthia weer op haar reguit manier.

“Ja, seker,” sê Mila sag.

“Dan is hulle dalk oukei. Arm mense se koppe is soms begaan oor die regte goed. Onthou jy ek het gesê dit is nie net die glitter-goeters wat waardevol is nie?” vra Cynthia.

“Ja, Cynthia, ek onthou. Ek gaan nou eers bye sê, ek wou maar net sê ek gaan weg!” sê Mila.

“Oukei, mooi gaan, my baby, en vat jou koekies wat oor is saam!” groet Cynthia.

“Moenie al jou klere inpak nie. Met drie kinders is die pakplek seker maar min. Neem net die klere wat jy die eerste rukkie sal kan dra. Dit word nou koeler. Neem warmer klere en miskien so ’n paar goed vir warm weer,” sê haar ma.

Sy pak ook ’n klomp skoene, onderklere, grimering, haarborsels, handdoeke, haar reënjas en sambreel, haardroër, haartang en juwele in. Die groot haas wat sy altyd op haar bed sit en haar Winnie the Pooh-beertjie moet ook saam. Sy pak Queenie se bakkies, pilletjies en borsel in en sit ’n nuwe kombersie in haar mandjie. Toe sy klaar ingepak het, gaan soek sy Paul op. Hulle sit tot laat in die tuin sonder om veel te gesels. Albei is jammer dat die vriendskap wat vinnig gekom het, dalk ook maar vinnig sal sterf.

“Ek sal jou bel,” sê Mila toe sy groet. “Sê groete vir jou pa,” voeg sy dan by.

Toe hulle teen tienuur stadig by die woonstel wegtrek, sien Mila vir Paul waar hy met sy hande in sy sakke in die tuin staan en hulle agterna staar. ’n Snik skeur uit haar bors.

“Ag, Mamma, ek wil nie weggaan nie!” huil sy.

“Dit is beter so, jy sal sien,” is al wat haar ma sê. Dan ry hulle in stilte tot hulle in Mosselstraat voor die spierwit huis met die blou plastiek-swembad wat soos ’n dammetjie lyk, stilhou. Die huis is netjies gerestoureer en lyk beter as wat Mila verwag het. Dit is ’n gewone middelklashuis. Dis nou my nuwe huis, dink Mila. Dan bars die huis se voordeur oop en die hele gesin behalwe die pa kom met groot glimlagge na hulle toe aan.

[contact-form][contact-field label=”Naam” type=”name” required=”true” /][contact-field label=”Epos” type=”email” required=”true” /][contact-field label=”Webwerf” type=”url” /][contact-field label=”Message” type=”textarea” /][/contact-form]