Die tannie lyk glad nie of sy haar ma se niggie kan wees nie. Sy is ’n kort, mollige vroutjie met ’n denimkuitbroek en ’n lang, wit hemp. Om haar nek is donkerblou krale en daar hang bypassende oorbelle aan haar ore. Sy het skouerlengte bruin hare, maar die eerste ding omtrent haar wat Mila opval, is die vriendelikheid wat uit haar gesig straal.

“En dis nou seker Mila?” sê sy en druk haar dadelik styf teen haar bors vas. “Vir ’n rukkie word my droom bewaarheid. Ek wou nog altyd twee dogters en twee seuns gehad het. Welkom by ons!”

Mila haal Queenie en haar mandjie uit die motor.

“Is dit jou kat? Wat is haar naam?” vra die dogter belangstellend.

“Ja, dis my kat. Haar naam is Queenie,” sê Mila terughoudend.

“En hierdie is Helena,” sê tannie Karen weer. “Sy is net so oud soos jy. Kobus is in matriek en hierdie klein outjie is ons laatlam, hy is vyf jaar oud. Sy naam is Jaco. Kom ons gaan in, dan drink ons ’n bietjie tee. En ek het vars beskuit gebak. Kobus, kry tannie Leoni se sleutels en sit Mila se goed by Helena in die kamer. Jammer ek praat so baie, maar ek is so opgewonde dat Mila hier kom bly!” sê sy, amper alles in een sin.

Helena glimlag vir Mila en sê: “My ma is maar ’n babbelkous. Ek hoop jy weet hoe om jou ore af te sluit.” Helena rol haar oë. Mila glimlag vir haar en wonder of sy weet hoe lekker dit klink dat ’n ma te veel met jou kan praat, want haar ma praat amper nooit met haar nie.

As Kobus met die laaste tas inkom, kla hy: “Jislaaik, Mila, jy het meer goed as ons almal saam!” Sy bedink haar net betyds om te sê dit is maar net ’n bietjie van haar klere.

Na die tee staan haar ma gou op om te ry. Sy bedank tannie Karen weer en gee vir Mila ’n drukkie en soen haar op die wang. “Ek sal jou bel, Mila,” sê sy. Voor hulle by die huis weg is, het sy vir Mila ’n paar honderdrandnote afgetel en gesê dit is haar sakgeld. Mila het ook gesien dat sy vir tannie Karen ’n koevert gee, seker haar verblyfgeld. Nou lyk dit of sy reken sy het gedoen wat sy moes en wil nou wegkom, dink Mila en sluk hard aan die trane. Sy is nou een van die mense in Mosselstraat.

“Queenie, kom ontmoet vir Carlos. Hy is nie Persies of Siamees nie, hy’s ’n pedigree-straatkat met sy spikkelgesiggie wat soos ’n marie-beskuitjie lyk! Hy is slim en geleerd, jy moet van hom hou!” sê Helena vrolik toe Mila se ma gery het. Queenie lyk glad nie beïndruk nie. Sy kyk baie hovaardig na die Muizenberg-kat met die naam van die Spaanse koning. Selfs dít maak geen verskil aan haar nie. Sy is darem ’n privileged kat. Cynthia sou sê: Old habits die hard! dink Mila en glimlag by haarself.

“Kom ons gaan wys jou rond, dan sien jy hoe dit hier lyk,” stel Kobus voor.

“Nee, man, kom ek wys haar eers ons kamer,” keer Helena. Óns kamer, sê Mila vir haarself. Hoekom tref dit haar nou vir die eerste keer? Daar is seker tog nie soveel kamers nie, sy sal ’n kamer met Helena moet deel! Vir die eerste keer in haar lewe sal sy ’n kamer met iemand moet deel.