“Kom ek help jou jou klere uitpak,” sê Helena.

Die kamer is darem nie so klein nie, dink Mila. “Waar moet ek my goed inpak?” vra sy.

“My pa het gister ’n ekstra hangkas hier ingedra. Dis joune en dan is daar nog ’n rak of twee in die ingeboude kas ook oop,” antwoord Helena.

Mila begin uitpak en skrik as Helena hardop uitroep: “Jy het ongelooflike klere, Mila! Ek het nog nooit soveel mooi goed bymekaar gesien nie en alles is sulke luukse name: Prada en alles, wow! My ma maak omtrent alles wat ek het. As ek iets moois sien, teken ek vir haar ’n prentjie, dan maak sy dit net so,” sê sy en klink half trots, half jammer.

“Jy is gelukkig om klere te hê wat met liefde vir jou gemaak is. As ek iets gehad het wat my ma gemaak het, het ek dit dag en nag gedra,” sê Mila en sy is bly sy het dit gesê, want Helena lyk dadelik gelukkig en sê: “Haai, Mila, bedoel jy dit?”

“Natuurlik bedoel ek dit!” sê Mila.

“Dan móét my ma vir jou ook iets maak terwyl jy hier bly. Sy is mos jou kamma-ma vir ’n ruk!” sê Helena en giggel.

Met groot moeite kry Helena en Mila al haar goed weggepak en dan gaan soek hulle Kobus om te gaan stap, maar hy lê voor die TV, vas aan die slaap. Hulle besluit om maar tot later te wag en gaan soek koeldrank in die kombuis.

“Het julle twee klaar uitgepak?” vra tannie Karen. Sy is besig om herderspastei te maak.

“Ja, ons moet nog net die tasse met plastiek toemaak en in die buitekamer bêre,” sê Helena.

“Kan ons nie help nie?” vra Mila, wat net betyds Cynthia se stem in haar kop hoor sê: “Mila, hoe het ek jou maniere geleer, jy’s nie lam nie!”

“Nee, wat, dis jou eerste dag hier. Van môre af kan jy en Helena beurte maak om tafel te dek en die kinders was na ete saam die skottelgoed,” sê tannie Karen. Mila kyk rond en sien vir die eerste keer daar is nie ’n skottelgoedwasser nie.

“Miskien moet ons jou sommer nou al sê die badkamer het nogal vaste reëls, want ons is baie vir een badkamer,” vertel Helena. “My pa bad sesuur, want hy ry vroeg werk toe. Ek bad kwart oor ses, my broer halfsewe. My ma en Jaco bad as almal skool toe en my pa werk toe is. Almal moet by hulle beurte hou anders loop dinge deurmekaar. Miskien moet Kobus skuif na kwart voor sewe en jy in die halfsewe-gleuf,” verduidelik Helena.

“Joe, maar dit klink ingewikkeld!” sê Mila. Sy dink dadelik aan haar ma. Wie sal nou haar handdoeke optel en ophang en haar bad was? Miskien is dit tog ’n goeie ding sodat haar ma kan leer om op haar eie bene te staan.

“Gaan koop julle gou vir my melk,” sê tannie Karen en haal geld uit ’n botteltjie in die kas.

“Dit is die brood-en-melk-geld,” verduidelik Helena.

“Ek gaan saam, ek gaan saam!” skree Jaco.

“Oukei, man,” sê Helena, “moet ons net nie irriteer nie!”

“Hou Helena se hand vas,” roep tannie Karen agterna.

“Nee, ek wil Mila se hand vashou,” keer hy dadelik en val langs Mila in.

“Is jy nou my sussie?” vra hy vir Mila.

“Net speel-speel,” antwoord sy, onseker van haarself.