“Ek is bly, dis lekker om twee sussies te hê! En jy is baie mooi!” sê Jaco.

“En jy’s ’n cute klein boetie. Ek het nog nooit ’n boetie of ’n sussie gehad nie,” gesels Mila met hom.

“Nou is jy so lucky, jy het baie!” sê hy en hy huppel-spring wild aan Mila se hand.

“Die huis is na aan die see,” sê Mila toe hulle om die hoek stap en die see twee blokke laer af sien lê.

“Ja, dis lekker. In die somer staan ons vroeg op en swem voor al die vakansiegangers uit hulle gate kruip. Dan kan ’n mens soms nie hier trap nie, maar dit is ook nice. Die radiostasies het altyd kompetisies op die strande en die lifesavers is great,” sê Helena en sy rol haar oë boontoe. “Het jy ’n ou, Mila?” vra sy dan.

“Ek het een gehad, maar hy het my gelos toe ons arm geword het. So, dit was seker maar ’n small loss,” antwoord Mila.

“Klink so, ja,” beaam Helena.

“Wat van jou?” vra Mila.

“Daar is ’n Marius-ou, maar ek weet nie of ek hom ’n boyfriend kan noem nie, hy is so treurig!” sê Helena en sy lag uit haar maag uit. Dit is so aansteeklik, Mila lag sommer saam.

“Julle is sommer laf,” sê Jaco.

“Weet jy hoekom is ons so, Jaco? Want ons is meisies,” sê Helena met ’n fluisterstem en knipoog vir Mila.

Dan is hulle terug by die huis.

“Meisies is simpel, Mamma,” kla Jaco by tannie Karen toe hy die kombuis binnestorm.

“Hoekom sê jy so, Jaco?” vra sy ma.

“Hulle lag vir niks en nou het ons nog twee van hulle in die huis. Ons gaan dit nie kan uithou nie, my ore gaan pyn!” sê hy met ’n bekommerde gesiggie en tannie Karen bars uit van die lag. Dan lag Helena en Mila weer lekker saam.