oom ben het grys oë wat lyk of hulle regdeur jou kyk, maar daar is ook stukkies lag en terg in. Sy verbeel haar sy sien ook stukkies sagtheid en ’n knippie ‘toemaar, ek sal jou mooi oppas’ in sy oë, dink Mila en hou dadelik van hom.

“Is dit my nuwe dogter? Hoekom het niemand gesê dat ek al wat ’n seun is van die werf af sal moet weghou nie? Jy gaan ’n beroering onder die omgewing se kêrels maak, jong!” sê oom Ben en sit sy arm vertroulik om haar skouers. Dan sê hy: “Welkom by ons klomp De Wets. Ons het nie veel aan aardse goed nie, maar hier is baie liefde vir almal.”

Die knop in Mila se keel is so groot, sy kry skaars ’n dankie uit, maar haar betraande oë het klaar die oom se hart gewen.

“Kom sê vir my as die klomp jou moeilikheid gee! Regtig!” sê hy en lyk ernstig. Mila weet sy sal veilig wees by oom Ben, hy sal vir haar sorg. Tannie Karen roep hulle vir ete en as hulle sit, doen die oom ’n tafelgebed.

“Die tafel is gemaak vir ses mense, dit voel of ons nou voltallig is,” sê tannie Karen en glimlag vir Mila.

Mila voel die warmte wat die De Wets uitstraal. Sy kyk na die vrolike blou tafeldoek met die pienk rosiepatroon en die donkerblou borde en kan nie anders as om te onthou hoe Cynthia altyd hulle tafel gedek het nie. Alles spierwit met blomme by elke ete, maar dit voel soos jare gelede!

Die kos is vrek lekker, dink Mila. Oom Ben skep nog ’n keer en sê: “Mila, my vrou kan darem lekker kos maak, nè? Ek het goed gekies!” Al sê hy dit met humor, sien Mila die sagte kyk wat oom Ben en tannie Karen vir mekaar gee. Daar is ’n spesiale band tussen hulle. Mila wil sommer net huil. Sy kan dit nog nie mooi uitwerk nie, dink sy, maar dit voel of sy tot vandag toe iets van die lewe gemis het. Sy sal daaroor moet dink.

Na ete gaan haal Jaco die Bybel en oom Ben lees vir hulle voor. Dan bid hy. Hy sê dankie vir al hulle seëninge. Dankie dat Mila by hulle kan kom bly. Hy vra die Here se leiding dat almal vreugde uit die saamwees sal kry. Hy bid ook vir Mila se ma.

Vir haar verwardheid, haar seer en dat haar probleme opgelos sal word en sy en Mila as gesin herenig kan word. Mila huil nou onbeskaamd. Sy voel of sy in ’n halwe dag hierdie mense liefgekry het! Die hele ete was vir haar ’n ondervinding, dink Mila later. Hulle praat so mooi met mekaar. Die oom en tannie stel belang in alles wat elkeen sê. Die huisgodsdiens was vir haar iets onbekends.

Na ete dek hulle af en Helena en Kobus stry eers oor wie moet was en wie moet afdroog. Mila en Jaco dra die vuil skottelgoed aan. Hulle sê sy moet sommer ook wegpak, dan leer sy die kaste ken. Hulle gesels aanmekaar en vertel vir Mila van die skool en onderwysers. “Ons gaan nou gou vir jou die buurt wys,” sê Kobus.

“Ja, teen die tyd dat ons klaar uitgepak gehad het, lê jy mos en slaap, Mister,” sê Helena en slaan hom ’n hou met die afdroogdoek. Hy gryp die houtlepel en jaag haar by die voordeur uit. As hy haar ’n slag of wat speels met die lepel bykom, hoor ’n mens Helena se gille van ver af.