“So gaan dit elke aand hier. Die kinders kan so laf wees. Moenie praat van mekaar tart nie! Ag, maar dit ken jy seker nie, Milatjie. Jy het so alleen grootgeword,” sê tannie Karen en glimlag simpatiek.

“Ja, Tannie, ek het tot nou heeltemal anders gelewe as wat Tannie se kinders grootword. Ek het nog nooit in ’n huis gebly waar daar nie ’n skottelgoedwasser of huiswerkers was nie. Die laaste twee maande wat ons in die woonstel gebly het, het Sara darem een keer per week gekom, so, ons was nooit heeltemal sonder ’n huishulp nie!” sê Mila. Sy vertel sommer vir tannie Karen van Cynthia wat soos ’n ma vir haar is.

“Sy is nou vir jou ’n karakter. Julle sal haar ontmoet, want sy het my adres en sal kom kyk of ek oukei is,” sê Mila met ’n klein stemmetjie. Wat is dit met haar dat sy vandag vir alles wil tjank? Wat sal die mense van haar dink? Sy is soos ’n groot baba! dink Mila.

Helena kom blaas-blaas by die deur in en soebat: “Asseblief, baas, net nie meer nie!”

“Sê eers: Asseblief, grootste koning, wees my, jou onderdaan, genadig!” sê Kobus terwyl hy haar arm speels draai. Helena sê alles soos ’n papegaai agter hom aan.

“Ek het good and solid gewen! Leer jy maar jou les hieruit, Milatjie, moenie my try nie!” sê hy laggend vir Mila, wat net verbaas haar oë groot trek en hom aanstaar.

“Kom, laat ons gaan stap. Kom, Onderdaan en Snip, jy sal ook seker weer wil saampiekel,” sê Kobus vir Helena en dan vir Jaco, wat klaar besig is om sy tekkies aan te trek.

Mila wag in die gang vir die ander om te kom. Sy verwonder haar aan die mooi skilderye teen die muur.

“Dis so mooi. Beautiful!” sê sy vir Helena en Kobus toe hulle eindelik kom.

“Ja, dis my ma se werk, sy doen dit as ’n stokperdjie,” sê Kobus.

“Dis so goed, sy kan beroemd word!” roep Mila verbaas.

“Ons sê ook so, maar sy sê as dit ’n werk word, haal dit die lekker uit die mooi uit. Wat sy ook al daarmee bedoel.”

“My ma-hulle het kunswerke van die beste skilders in die wêreld gehad en nie een was vir my so mooi soos dié een nie,” sê Mila en wys na een.

“Kom ons loop nou,” sê Kobus ongeduldig en stap by die deur uit. Jaco hardloop agter hom aan. “Dra my op jou rug, seblief!” smeek hy.

Kobus tel hom op sy rug en sê: “Net tot ek moeg is, oukei?”

Dit is ’n wolklose, stil aand en dis al amper heeltemal donker. Mila hoor ’n storie oor die hele buurt se inwoners en lag dat haar maag pyn. Hulle loop af strand toe en sit ’n rukkie op die sand. Die ligte van ’n skip wat verbyvaar, verskyn op die horison. Dit laat haar terugdink aan die aande by haar ou huis. Dan wonder Mila wat haar ma vanaand doen. Sal sy haarself oppas? Miskien moes sy tog vir Rika gevra het om ’n ogie oor haar ma te hou, sê sy vir haarself.

“Hoekom is jy so stil?” vra Helena.

“Ag, wat, ek dink maar aan my ma en hoe ek altyd gekyk het na die skepe wat by ons ou huis verbygevaar het,” sê Mila ingedagte.

“Mis jy jou ou huis?” vra Kobus.

[contact-form][contact-field label=”Naam” type=”name” required=”true” /][contact-field label=”Epos” type=”email” required=”true” /][contact-field label=”Webwerf” type=”url” /][contact-field label=”Message” type=”textarea” /][/contact-form]