Mila dink ’n rukkie: “Ek mis my gesin. Al was ons nooit so ’n gesin soos julle nie, was ons in een huis. Ek verlang terug na die idee dat dit was soos dit gehoort het. Dis vir my sad dat ek en my pa en my ma nooit weer saam sal kan wees nie. Ja, ek mis ook vir Cynthia, sy was eintlik maar my ma,” sê Mila en lyk hartseer. Dan vertel sy vir hulle van Cynthia en haar sêgoed en gou is almal aan die lag. “Sy sal een van die dae kom kuier. Eintlik gaan sy julle kom deurkyk,” sê Mila en giggel.

Toe hulle by die huis kom, bel sy gou vir Paul.

“Hoe voel jy nou oor die Here se deal vir jou?” vra Paul asof hy geweet het die De Wets is so nice.

“Jy’s seker reg. Hulle is spesiaal, maar ek wil nog eerder by my ma bly,” sê Mila.

“Of course, maar Hy sal jou daarnatoe ook terugvat. Vra net en wag geduldig, Milatjie,” bemoedig Paul haar.

“Waar kom jy aan alles, Paul? Hoekom is jy so … anders?” vra Mila dan en sy klink verstom.

“Jy kan dit maar sê Mila, weird. Ek is gewoond daaraan dat mense dit van my sê,” antwoord Paul en lag.

“Miskien is Cynthia reg, jy’s nie regtig ’n mens nie, jy’s ’n gestuurde. Jy is dalk waarlik ’n engel. Wag, ek moet klaarmaak. Nag, Engel,” sê Mila en giggel.

“Lekker slaap, Mila,” sê Paul.

Lank nadat die lig afgeskakel is, lê Mila en Helena in die donker en gesels. Dit is vir Mila ’n lekkerte wat sy ook nooit geken het nie. Al mis jy jou privaatheid, vergoed die nabyheid van iemand tog daarvoor, dink sy.

“Lekker slaap, Mila,” sê Helena uiteindelik.

“Jy ook, Helena. Onthou dat ek jou môre van Paul vertel,” sê Mila en dink sy hou van Helena. Hulle sal lekker saam bly.

“Saterdae help ons almal huis skoonmaak,” vertel Helena toe hulle wakker word. “Elkeen moet sy eie kamer skoonmaak. Dis nou stofsuig, afstof, meubels politoer en netjies maak. Ek doen dan ook die badkamer en die gang. Die seuns doen die sitkamer en eetkamer en my ma maak hulle kamer en die kombuis skoon. My pa doen die buitewerk. Dan is alles gou klaar. Saterdagaande maak ek kos en Sondagaand Kobus en Jaco,” verduidelik sy breedvoerig.

“Sjoe, ek het nooit gedink ’n mens kan sonder ’n huishulp klaarkom nie. Nou sien ek met spanpogings kan ’n mens dit wel regkry!” sê Mila verbaas.

Helena en Mila staan op en nadat hulle aangetrek het, spring hulle saam aan die werk. Die skoonmakery is sommer gou afgehandel.

Die meisies ry saam met tannie Karen supermark toe om groente en brood te gaan koop. Mila koop sommer ook vis vir Queenie. Vir middagete maak tannie Karen vir hulle worsbroodjies. Helena bak die middag ’n sjokoladekoek. Mila is verstom oor die andersheid van alles hier in Mosselstraat. Neem nou hierdie Saterdagmiddag, dink sy. Sy het nog nooit daaraan gedink om ’n koek te bak nie, nou lyk dit vir haar so ’n lekker ding om te doen. Jaco neul of hy die bak kan uitlek en Kobus kom kort-kort kyk hoe lank dit gaan wees voordat die koek koud genoeg is om te versier. Oom Ben kyk rugby en tannie Karen sit by hom en werk ’n rok se soom in. Kobus kyk eintlik ook rugby, dit is nou as hy nie in die kombuis is om te sien of hy al die koek kan verorber nie! Die warmte van die saamwees is byna vir Mila te veel om in neem.