Vieruur kom Marius, Helena se vriend, of dalk ou, daar aan.

“Jy is net betyds vir sjokoladekoek. As jy ’n bietjie later was, het jou deel in broer Kobus se maag beland!” sê Helena en lag. Dan stel sy hom aan Mila voor.

“Marius, dis Mila. Sy bly vir ’n paar maande by ons.”

“Ek is eintlik familie, maar nie so dat jy dit sal agterkom nie!” spot Mila en sy glimlag mooi vir Marius. Hy lyk na ’n stil outjie, baie blond en bruingebrand. Mila wonder of hy surf. Helena sny die koek en Mila sit dit in bordjies en deel vir almal uit. Hulle maak ook lekker koffie en almal sit gesellig om die televisie en skree vir die WP, wat teen die Cheetahs speel. Oom Ben is sielsongelukkig toe die Cheetahs op die ou end 20-8 wen.

Na die rugby gaan die kinders met ’n frisbee onder die arm strand toe en speel ’n lang ruk saam.

“Oeps,” sê Helena skielik. “Dis ons kosmaakbeurt, Mila. Kyk hoe laat is dit al. Wat gaan ons vanaand maak?”

“Pannekoek, pannekoek, pannekoek!” skree Jaco voor Mila nog enigiets kan sê.

“Nie ’n slegte plan nie. Speel julle maar verder, ek en Mila gaan kos maak,” sê Helena vir die seuns en hulle stap huis toe.

Terwyl hulle die pannekoekdeeg aanmaak, sê Mila: “Helena, ek is nog net ’n dag by julle en dit verstom my hoe julle gesin dinge saam doen. Ons huis was heeltemal anders. My pa was altyd weg vir sy werk. My ma het met haar vriende gekuier en haar hare en naels opgedollie. Ek was maar alleen daar of saam met maats. Niemand het ooit gevra wat gaan met my aan nie. Net Cynthia was altyd by met ’n stukkie bederf en ’n prekie!”

“Ons is eintlik maar ’n boring klomp, hoor!” vertel Helena effens verleë. “Ons gaan nooit teater of groot shows toe nie. Ons gaan darem af en toe fliek! Ons het nie geld vir allerhande uitstappies nie. Ek en Kobus werk altyd Julie- en Desembervakansies om geld te hê vir iets luuks soos ’n CD-speler of MP3-speler. Haai, dis darem nie so erg as wat ek dit maak nie, my mense is great!” sê Helena.

Queenie kom by die kombuis in met Carlos op haar hakke. Mila gee vir Queenie haar vis en Carlos kry katpilletjies. Groot is die meisies se verbasing toe die katte eers saam aan die vis en toe aan die pilletjies eet.

“Nou het ek alles gesien. Kan dit dieselfde Queenie wees wat nou die dag net vars vis en fillet steak geëet het! Queenie, wat sal Cynthia hiervan sê?” vra Mila verbaas en vryf Queenie se kop.

“Lyk my dié twee is nou groot vriende,” sê Helena ingenome.

As Saterdag vir Mila weird gevoel het, vat Sondag die prys. Almal word vroeg-vroeg uit die bed geboender om aan te trek vir kerk.

“My pa voer met niemand ’n debat oor hoe lus hy vir kerk is of nie. Sondagoggend gaan ons kerk toe. Dis hoe dit is,” verduidelik Helena.

Mila haal ’n pienk Dolce & Gabbana-romp en -top uit die kas en Helena snak na haar asem. “Dis ongelooflik mooi, ek het nog nooit sulke mooi klere gesien nie,” sê sy en staar verlangend daarna.

“Wil jy dit leen?” vra Mila skielik.

“Mag ek? Wou jy dit nie aantrek nie?” vra Helena.

“Nee wat, ek trek sommer iets anders aan. Leen jy dit maar vandag!” sê Mila.

Mila trek uiteindelik ’n spierwit Prada-rok aan wat haar perfek pas. Om haar