Helena lyk ongelooflik in my klere, dink Mila. Sy straal van genot om dit te kan dra. Mila dink dat syself nog nooit soveel vreugde uit die duur klere gekry het as wat sy nou by Helena sien nie. Hoe weird is dit?

“Wow, Mamma, Pappa! Mila en Helena lyk soos filmsterre!” gil Jaco toe hy hulle sien. Almal kom kyk.

“Gaan julle saam met mý kerk toe?” vra oom Ben. “Ek dink nie ek lyk dan goed genoeg nie!”

“Julle lyk so mooi!” sê tannie Karen.

“Mila gaan langs my sit in die kerk, dan dink die ander ouens dalk sy is my girl,” spot Kobus.

“You wish. Niemand sal glo jy kan so ’n oulike girl opchat nie,” terg Helena.

“Jy moet my watch, jy sal nog jou woorde sluk, Helena de Wet!” waarsku Kobus.

“Kobus hou van daardie Nane-meisie met die swart hare. Hy praat altyd met haar as ons gaan brood koop!” sê Jaco snipperig.

“Wát? Praat hy met Nane en sy praat terug? Die hele skool se ouens is mal oor haar en sy praat met Kobus!” sê Helena in ongeloof.

“Sien jy? Jy vat my cheap!” sê Kobus, duidelik baie in sy skik.

“Kom nou, dit word laat. Julle kan Kobus se liefdeslewe ’n ander keer bespreek!” sê oom Ben en stoot hulle by die deur uit.

Na kerk ontmoet Mila tannie Nelmari Verster.

“Weet jy wie is dit?” vra Kobus toe hy tannie Nelmari by sy ma in die tuinpaadjie sien staan. “Dit is Nelmari Verster.”

“Die skrywer?” vra Mila opgewonde.

“Ja, sy bly hier onder op die hoek. Sy en my ma is boesempêlle, al jare lank. Maar sy is bietjie koe-koe,” sê Kobus saggies.

“Hoe kan jy so sê?” roep Mila ontsteld uit.

“Man, ek bedoel nie koe-koe soos in mallerig nie, maar koe-koe soos in weird,” antwoord Kobus.

Nelmari Verster trek haar kerkskoene by die deur uit. “Ek en skoene is nie op dieselfde golflengte nie. Ons auras pas nie bymekaar nie,” sê sy.

Kobus, wat agter die tannie staan, maak by die aanhoor van dié woorde met sy vinger ’n sirkel om sy oor en liptaal die woord koe-koe vir Mila. Sy kry sommer lag!

“Wil Tannie tee drink?” vra Helena.

“Het jou pa nie meer soetwyn nie? Van wanneer af moet ek tee drink na kerk? Die enigste bietjie voggies wat ek per week inkry, is jou pa se soetwyn. Nou vra jy of ek wil tee drink!” sê Nelmari en rol haar oë kamtig vir Helena.

“Gooi vir my en die tannie ’n bietjie soetwyn in, Kobus,” sê oom Ben laggend.

“Is jy nou Mila? Maar jy’s ’n mooie kind!” sê Nelmari vir Mila en bekyk haar behoorlik van kop tot tone.

“Waar is Karen? Seker weer by die kospotte. Sy moet die kind skilder, kyk haar mooi profiel,” sê tannie Nelmari vir oom Ben.

“Hier is ek. Wat moet ek doen?” vra tannie Karen van die kombuisdeur af.

“Ek sê jy moet vir Mila skilder, dink jy nie ook so nie?” sê tannie Nelmari.

“Ek het ook al so gedink,” sê tannie Karen nadenkend. “Ons sal ’n plan moet maak.” Dan praat hulle oor die weer en tuine. Later sê tannie Karen: “Eet sommer by ons, Nelmari. Vir wat sal jy alleen by die huis gaan rondsit.”

“Ek was bang jy nooi my nie,” antwoord sy en lag uit haar keel. Snaakse, weird vrou, maar sy is baie entertaining! dink Mila.

Mila se ma bel net voor middagete. “Hallo, Mila. Is jy oukei? Bly jy lekker daar?” vra sy. Haar stem klink effens bekommerd – of verbeel sy haar net? wonder Mila.

“Alles is oukei, Mamma. Hulle is vreeslik gaaf. Hoe gaan dit met Mamma? Voel Mamma al ’n bietjie beter?” vra sy hoopvol.

“Dit gaan baie goed met my. Ek was Vrydagmiddag by ’n sielkundige wat dokter Karel vir my aanbeveel het en voel heel positief. Dis ’n baie oulike man, André Bremer. Daardie Paul-kind se pa was ook hier. Hy is nogal gaaf. Hy het my vanaand saam kerk toe genooi. Ek wou eers nie gaan nie, maar wat anders is daar tog om te doen? Ek sal maar gaan,” sê haar ma, allesbehalwe opgewonde.

“Dit klink nice. Dis baie gaaf van hom om Mamma te nooi!” sê Mila en probeer opgeruimd klink. Voor sy neersit, sê sy: “Ek verlang na Mamma. Jy moet jouself mooi oppas!” Daar is ’n lang stilte en dan sê Leoni sag: “Ek verlang na jou ook, Mila …” Mila vee vinnig die trane van haar wange af. Netnou sien almal sy huil al weer! Sy huil darem baie deesdae, dink sy vies vir haarself.