die nuus dat mila van ’n privaat skool af

kom, het soos ’n veldbrand versprei. Dit was glad nie tot haar voordeel nie! Die meisies van Anker Hoërskool het haar dadelik met agterdog bejeën en haar behoorlik uitgekyk. Selfs een van die onderwysers was negatief teenoor haar. “In hierdie skool word daar hard gewerk. Dit is nie ’n klomp ryk kindertjies wat hier saamgegooi is en op satynkussings vertroetel word nie!” sê hy sommer dadelik vir Mila. Sy wou eers hartseer word omdat sy voel sy verdien dit nie, maar toe vererg sy haar. Hoekom sal sy haar aan die ongeskikte ou buffel steur? dink sy ergerlik. Gedurende pouse die eerste dag kry Helena haar waar sy alleen op die trappies van die gimsaal sit.

“Jou dag is nie so nice nie, nè?” sê-vra Helena.

Mila dink hoe spyt sy is dat sy nie in Helena se klas is nie, maar sê net: “Dis mos maar tough in ’n nuwe skool,” en trek dan haar skouers op.

“Ja, maar die klomp voel bedreig omdat jy in Twee Oseane Hoërskool was. Hulle weet dit is ’n skool vir mense met geld en hulle dink jy gaan op hulle neersien,” sê Helena.

“Maar ek is nie meer ryk nie. Dis alles iets van die verlede!” sê Mila moedeloos.

“Maar hulle weet dit nie, Mila. So, wees ’n bietjie geduldig,” troos Helena.

Die periode na pouse het hulle Afrikaans. ’n Lang, donker outjie, Riekert Grobler, sit langs Mila en begin vriendelik met haar gesels. Hy vra waar sy vandaan kom, hoekom sy by Helena-hulle bly en hoe lank sy daar gaan bly. Die hele tyd voel sy egter iemand hou haar dop. Dan sien sy dat die een meisie, Hermien, haar behoorlik aangluur. Sy maak glad nie ’n geheim daarvan dat sy haar sou wou laat verdwyn het as sy kon nie.

Met klaswisseling kom stap sy langs Mila. “Jy moenie dink oor jy geld het, kan jy net kom oorneem nie! Los vir Riekert uit!” sis sy en haar oë spoeg vuur. Voor Mila iets kan sê, verdwyn sy om die hoek. Soveel giftigheid het sy nog nooit beleef nie, dink Mila en sug. Sy het nie nou al dié nonsens ook nog nodig nie! sê sy vies vir haarself. Die res van die dag word nie beter nie en sy is bly toe die huistoegaanklok uiteindelik lui.

Dié middag bel Andrea en vra: “Hoe het dit vandag in die nuwe skool gegaan?”

“Vrot!” sê Mila ongelukkig. “Ek is dadelik gebrandmerk as die ryk meisie uit ’n privaat skool. Die enigste ou wat met my gepraat het, het amper veroorsaak dat ’n meisie my oë uitkrap,” vertel Mila en vra dan: “Hoe gaan dit met julle klomp? Hoor jy iets van Montaldo? Ek hoor by Cynthia hy het ’n rooikopmeisie?”

“Ja, en sy dink nou sy is super special! Gooi haar lyfie rond! Ek sou sê sy pas perfek by haar liefie. Jy weet hoe ek nog altyd oor hom gevoel het!” sê Andrea katterig en troos dan: “Jy moet moed hou, girl. Môre is dalk beter. Die mense by wie jy bly, is hulle darem oukei?”

“Ja, hulle is die beste. Die kinders, Helena en Kobus, is ook gaaf met my by die skool, maar dit is ook net hulle …” sê Mila en sug.

Hulle praat nog ’n rukkie en lui dan af.

Tannie Karen is ook vreeslik ongelukkig dat dit so ’n slegte eerste dag vir haar was.

“Moenie worry nie, Tannie, dit sal beter word,” sê Mila, maar voel nie die sekerheid in haar eie hart nie.

Sy doen haar huiswerk en bel dan vir Paul. “Dit sal regkom, jy moet net bid daaroor. Ek sal ook vir jou bid,” sê hy toe hy van haar slegte dag hoor.

“Jy laat dit so maklik klink!” roep Mila uit

“Dis omdat dit maklik is,” sê Paul dadelik.