Later dek Mila tafel en Helena help met die kos. Mila begin nou deel van die huishouding voel. Toe hulle klaar geëet het, sê Kobus: “Kom ons gaan stap ’n bietjie langs die see.” Helena kan nie saamgaan nie, sy wag dat Marius ’n boek moet kom haal wat hy wil leen. Jaco wil wonder bo wonder ook nie saamgaan nie, want hy kyk ’n storie op televisie wat hy nie wil mis nie. “Dan is dit net ons twee,” sê Kobus. Teen hierdie tyd het Mila al agtergekom dat sy en Kobus baie lekker kan gesels. Hulle hou van dieselfde dinge. So gesels hulle nou oor alles – van flieks, die see, die osoonlaag en uiteindelik selfs verhoudings. Sy vertel hom van Montaldo en hy erken dat hy reeds een keer mal verlief was – op ’n meisie met die naam Sanet. Hy is steeds geskok dat sy sy beste vriend agter sy rug gedruk het.

“Ek hoop jy het die sogenaamde vriend ook verloor,” sê Mila verontwaardig.

“Natuurlik! Wie wil ’n vriend hê wat jy nie kan vertrou nie? Hy was natuurlik vreeslik jammer, maar jammer kom soms te laat!” sê Kobus en lyk opnuut vies.

“Haai julle, stap julle af see toe?” vra ’n stem skielik kort agter hulle.

“Hallo, Nane,” sê Kobus en lyk baie bly om haar te sien.

“Haai, Kobus. En jy is Mila, nè? Die hele skool weet wie jy is!” sê sy.

“Ja, almal dink hulle weet!” reageer Mila heftig. “Maar ek is glad nie wie hulle dink ek is nie. Ek het dalk minder geld as enige een van dié wat my vir ’n ryk chick uitskel!”

Nane loop saam met hulle af see toe. “Vertel my meer van jou,” vra Nane en Mila vertel haar van haar pa se dood en alles wat daarop gevolg het.

“Jou arme ding, jy kort eintlik simpatie!” sê Nane en raak aan Mila se skouer. “So, Kobus is eintlik jou kleinneef,” sê Nane na ’n rukkie en klink verlig.

“Yes, blóédfamilie,” benadruk Kobus die feit.

“Amper gewonder of daar iets tussen julle broei. Julle lyk of julle nogal close is,” sê Nane eerlik.

“Nee, ek dink ons gene herken mekaar seker. Ons gesels lekker oor dieselfde goed,” sê Mila en lag.

Toe Nane later groet, roep sy oor haar skouer: “Wag môre vir my by die skoolhek!”

“Ag, sy is so sweet,” sê Mila vir Kobus en vervolg laggend: “En so verlief op jou!”

Kobus bloos bloedrooi. “Hoekom sê jy so?” vra hy kamtig ongeërg.

“Het jy nie gesien hoe bly sy was oor ons familie is nie? Nee, liewe Kobussie, sy is dol oor jou! Jy sal moet go for the kill!”

Kobus lag verleë, maar lyk heel in sy skik.

“Hoekom is julle so opgewek?” vra Helena toe hulle terugkom by die huis.

“Ons het vir Nane langs die pad gekry,” sê Kobus.

“Dit verduidelik jou smile, maar hoekom lyk jy so tevrede met jouself, Mila?” vra Helena.

“Ek en Nane het lekker gesels en kry mekaar môre by die skoolhek.”

Mila se tweede dag by die nuwe skool is baie beter. Nane wag ewe vrolik vir haar by die hek en hulle gesels soos ou vriendinne. Nane se vriendin, Bessie, is al maats met haar vandat hulle in die laerskool was. Sy is ’n mollige meisie met groot groen oë wat altyd lag. Sy laat Mila vinnig tuis voel in die groepie en Mila hou dadelik van haar. Mila vermoed dat Nane met van die ander meisies oor haar gepraat het, want skielik is daar heelwat meisies wat met haar kom gesels.