Drieuur Woensdagmiddag roep tannie Karen van die voordeur af: “Mila, hier’s iemand vir jou!”

Toe Mila sien dat dit Cynthia is, bars sy in trane uit.

“En nou, my baby, wat is nou jou problem?” vra Cynthia besorg.

“Dis net so lekker om jou te sien! Dit voel of ek jou jare laas gesien het!” roep Mila uit.

“Nee, ek sal mos nie so lank van jou wegbly nie!” paai Cynthia.

Cynthia dra ’n klomp pakkies en sakke en kom steun-steun by die huis in.

“Cynthia, dit is tannie Karen,” stel sy hulle voor.

“Cynthia, ons het al baie van jou gehoor. Mila praat elke dag van jou,” sê tannie Karen vriendelik.

“Mevrou Karen, so, jy is die secret cousin. Ons het nooit van jou gehoor nie. Weet nie hoekom nie, jy lyk vir my heel respektabel. Jy het nog so ’n vriendelike, oop gesig ook,” sê Cynthia en tannie Karen lag uit haar keel.

“Jong, Leoni was nooit een vir familie nie! Dis dalk hoekom julle niks van my gehoor het nie,” meen tannie Karen.

“Ek het ’n bietjie aalmoese gebring. Sjokoladekoek, koeksisters, gemmerkoekies en soetkoekies. My baby kan nie verniet by julle bly nie!” sê Cynthia en haal die bakke een vir een uit haar sakke.

“Haai, Cynthia, jy moes nie so ’n klomp goed gebring het nie, maar baie dankie. Die kinders gaan jou vir ewig liefhê!” sê tannie Karen en vervolg: “Kom deur kombuis toe, dan maak ek vir ons tee. Bring die koekies, Mila.”

“Cynthia, jy het tog nie weer by Montaldo-hulle gebak nie?” vra Mila streng.

“Ja, of course. Hulle is privileged, maar moenie stres nie. Ek het gesê ek bak ’n klompie koekies vir die armes. Toe sê hulle no problem!” sê Cynthia en lyk of sy die troefkaart gespeel het. Tannie Karen en Mila skree soos hulle lag.

“In hulle oë ís ons seker die armes,” giggel tannie Karen.

“Waar is die kinders? Ek sal hulle ook graag wil sien,” sê Cynthia.

“Hulle gaan nou-nou hier wees. Kobus het nog rugbyoefening by die skool en die ander twee het gaan melk koop,” antwoord tannie Karen.

Cynthia is in haar element. Terwyl hulle om die kombuistafel sit en tee drink, vertel sy vir tannie Karen hoe weird die Pietersielies (dis nou die Putchelli’s) is. Sy het veel te sê oor Montaldo se opstêrs meisie “met haar hare wat lyk of die Suidoos in dit bly”, beduie sy.

Tannie Karen vou dubbeld soos sy lag. Toe die kinders later kom, bekyk Cynthia elkeen en maak noodwendig ’n opmerking.

“Helena is ’n goeie naam, sonder nonsens. Nie soos hierdie nuwe soort goed wat saamgeflans is nie! Jy moet ’n kind sonder fieterjasies wees!” Cynthia knik haar kop goedkeurend. Dan kom Kobus in. “O, en jy is Kobus! Mensig, maar met daardie slaapkamer-ogies loop die meisiegeslag seker toue agter jou aan,” sê Cynthia en sug.

“Daar is nogal een wat nie van beter weet nie!” spot Helena en sy kry ’n vuil kyk by Kobus.

“Ek is Jaco,” kom Jaco tussenbeide, bang hy word vergeet.

“Jy kan jammer wees ek werk nie hier nie, Jaco. Ek sou jou heeltemal gespoil het. Ek het koekies gebring. Sorg dat jy die meeste kry, oukei?” sê Cynthia moederlik.

“Ek dog jy preek altyd vir my oor ek bederf is. Nou wil jy vir Jaco bederf en vir hom die meeste koekies gee. Dis mos nie fair nie!” protesteer Mila kamtig verontwaardig.

“Ja, maar jy is op die verkeerde manier bederf. Onthou, te veel koekies gee jou ’n figure soos myne!” verduidelik Cynthia en almal lag lekker.