“Sien julle nou? Ek het julle van Cynthia vertel, daar is net een soos sy,” sê Mila.

“Baby, skinder is onchristelik. Loop jy nog op die pad van die Here hier in Muizenberg? Jy moet die pad wat die engel jou gewys het nie weer verloor nie!” praat Cynthia op haar reguit manier.

“Nee, Cynthia, ek loop op die pad,” verseker Mila haar.

“Ja, Cynthia, ons huisgesin loop almal op daardie pad van die Here,” verseker tannie Karen haar.

“Dan weet ek dit is goed dat Mila se pad verby Muizenberg en julle huis loop. Sy het mense nodig wat saam met haar die Here kan dien. Ek hoop en bid net die Here vat mevrou Leoni ook op so cruise dat sy Hom ook kan leer ken,” sê Cynthia ernstig.

“Weet jy, Cynthia, ek dink jou gebede word reeds waar. Sy was die naweek wat verby is, saam met Paul se pa kerk toe,” vertel Mila.

“Paul? Jy meen die engel? Is daar dan ’n hele family of angels in een woonstel? Fantasties! Alles gaan so mooi in plek kom, ek is eintlik nou so excited! Keep the faith, sê ek altyd!” Cynthia se gesig straal behoorlik. Dan sê sy: “Ek moet seker my rigting huis toe kry,” en staan op. “Secret Coz, jy moet asseblief mooi na my baby kyk en julle kinders ook! Jaco, onthou van die koekies,” sê sy vir elkeen.

Mila sien Cynthia by die deur af. “Mila, moenie vir Cynthia in die skande steek by die goeie mense nie, doen jou deel,” praat sy van haarself in die derde persoon en dan is sy weg.

Mila kyk hoe sy straataf stap en begin sommer weer huil. “Here, hoekom voel ek nou weer so alleen? Daar is niks wat my bind met my verlede en wat my eie voel nie! Dis of ek net tussen ander neergesit is sonder ’n verlede,” bid sy. Dan voel sy hoe Queenie teen haar bene skuur en op daardie oomblik weet sy die Here luister na haar, en al is dit min, het sy darem vir Queenie. “Dankie, Here!” prewel sy.

Toe sy terugkom in die kombuis, sien tannie Karen die traanspore op Mila se wange en druk haar styf teen haar vas. “Eendag sal alles weer reg voel. Tot dan is jy ons kind!” sê sy innig met trane in haar oë.

“Baie dankie vir al julle vriendelikheid en liefde, Tannie,” sê Mila dankbaar. “Ek waardeer dit so baie.”

“Tannie of Secret Coz?” sê tannie Karen en haar oë vonkel stout! Dan bars hulle al twee uit van die lag.

Etenstyd vertel hulle vir oom Ben van Cynthia se besoek en elkeen vertel die een of ander ding wat sy gesê het. Oom Ben lag vrolik en sê: “Jammer ek het haar gemis, dit lyk of sy julle middag goed opgekikker het.”

Vir nagereg eet hulle van Cynthia se sjokoladekoek. Tannie Karen lag weer oor die storie dat Cynthia na hulle verwys het as die armes!

“Ek wil graag arm wees as ek weer sulke lekker sjokoladekoek kry,” sê Kobus en hou sy bord vir nog ’n stuk.

“Wanneer kom sy weer?” wil Jaco weet. Sy oë blink asof hy ’n diamantmyn ontdek het.

“Ons sal maar moet sien,” sê Mila.

“Gaan trek julle truie aan, dan loop ons weer ’n entjie,” sê Kobus.

“Ek gaan nie saam nie. Die wind is te koud en ek wil vroeg in die bed klim. Ek is besig om ’n wonderlike boek te lees,” antwoord Helena.

“Ek kom saam, ek kry net my baadjie,” sê Mila.