Kobus en Mila loop ’n rukkie in stilte, dan sê hy: “Ek wil Nane vra vir die skool se verjaarsdagbal einde Mei. Dink jy sy sal saam met my gaan?”

“Ek kan nie dink hoekom nié. Ek is seker sy hou van jou,” antwoord Mila.

“My vriend, Hannes, wil jou vra. Sal jy saam met hom gaan?” vra Kobus.

“Hy is mos die kort, blonde ou wat altyd saam met jou rondhang?” vra Mila.

“Ja, hy’s eintlik ’n nice ou. ’n Bietjie stil, maar heel oukei,” antwoord Kobus.

“Ek sal gaan, maar ek weet nie waar ek ’n balrok gaan kry nie,” sê Mila en dink hoe vinnig sy vroeër na ’n ontwerper toe sou gaan en ’n rok laat maak het sonder om eers oor die prys uit te vra. Nou is daar net nie geld vir iets so buitensporig nie.

“My ma sal vir jou ’n rok maak. Sy maak altyd vir Helena klere,” sê Kobus.

Ek weet darem nie van ’n tuisgemaakte balrok nie, dink Mila effens snobisties, maar vir Kobus sê sy: “Ek sal met jou ma praat. Sê vir Hannes hy moet my eers vra.”

Die volgende dag kom Kobus en Hannes pouse by Mila, Bessie en Nane gesels. Na ’n rukkie roep Hannes Mila eenkant om haar iets te vra. Mila weet natuurlik dadelik waaroor dit gaan.

“Sal jy saam met my na die verjaarsdagbal gaan?” vra hy skamerig.

“As jy kans sien om met my te dans, want ek is nie goed daarmee nie!” sê Mila en glimlag breed vir hom.

“Toemaar, ek is ook nie ’n wonderlike danser nie. Dankie dat jy sal saamgaan!” sê Hannes en lyk verlig.

“Tannie Karen, ek wil vir Tannie iets vra,” sê Mila die middag na ete.

“Ja, Mila, wat moet die Secret Coz vir jou doen?” vra tannie Karen lighartig.

“Kobus se vriend Hannes het my vir die verjaarsdagbal gevra, maar ek kort ’n rok …” antwoord Mila versigtig.

“Dis mos nie ’n probleem nie, Milatjie, ons maak vir jou een! Kom ons gaan kyk môre vir materiaal en ’n patroon, dan is ons in besigheid!” sê die tannie.

Die volgende middag gaan Mila, tannie Karen en Helena op die materiaalsending.

“Daar is nie ’n manier wat ek gaan bly nie!” sê Helena toe sy van materiaal koop hoor. Sy voeg hoopvol by: “Ek moet ook maar rondkyk, want dalk word Oorlede-dood wakker en vra my vir die bal, dan moet ek weet wat ek wil hê!”

Hulle kry ’n ongelooflike mooi pêrelpienk materiaal met ’n liggroen ondertoon. Mila kyk die patrone deur en kom op een af wat soos Cameron Diaz se rok lyk wat sy onlangs by die Oscar-aand gedra het. Dit het ’n groot kraag en loop met punte ondertoe en het ’n sleep.

“Dit sal ek wil hê. Sal Tannie dit kan maak?” vra Mila vol verwagting.

“Dit lyk nie te moeilik nie, Mila. Kom ons koop dit, dan probeer ek,” sê tannie Karen. Die hele aankope kos minder as wat Mila gewoonlik vir ’n T-hemp sou betaal. Ongelooflik! dink sy.

Helena sien saffierblou organza waarvan sy hou. “Dit is droommooi. Hoe kan ek tog vir Marius oorreed dat hy my moet vra?” kerm sy by Mila.

“Los hom vir my,” sê Mila vasbeslote.

By die huis neem tannie Karen Mila se mate. “Nou kan ek die rok uitsny sodra ek tyd het,” sê sy.

Laatmiddag, toe Marius sy gebruiklike draai by Helena maak, verdwyn Mila nie soos sy al gewoond is om te doen nie. Sy sit en kuier gesellig saam. Helena gaan haal later koeldrank en dit is toe dat Mila haar kans waarneem om ewe dom te vra: “Marius, saam met wie gaan jy na die skool se verjaarsdagbal?”

“Ek het nog nie eintlik oor die bal gedink nie, maar ek sal hoor of Helena wil gaan. Dink jy sy sal wil?” vra hy, skielik angstig.

“Ja, maar miskien moet jy gou vra, want sy sal nog ’n rok moet kry en dié dinge neem tyd!” sê Mila sedig.

Toe Helena met die koeldrank kom, neem Mila haar glas en verdwyn diskreet.

“Hy het my gevra! Wat het jy vir hom gesê?” vra Helena opgewonde ’n bietjie later toe Marius weer weg is.

“Ek het net gevra wie vat hy bal toe en toe sê hy hy het nog nie oor die bal gedink nie, maar hy sal jou graag wil vra. Ek sê toe hy moet gou maak, jy sal ’n rok moet kry en dit vat tyd!” sê Mila selfvoldaan.

“Ek skuld jou! Jy is net te dierbaar!” sê Helena en sy blom.

“Waarvoor is susters dan daar?” vra Mila en glimlag warm vir Helena.

“Ag, en is dit nie lekker om ’n suster te hê nie!” sê Helena innig.