“bly jy lekker by die de wets?” vra mila se ma toe hulle voor die huis in Mosselstraat wegtrek. Dit is Vrydag, die begin van Mei, en Mila gaan vir die eerste keer na haar eie huis toe.

“Ai, Mamma, hulle is so gaaf en dierbaar, Mamma het nie ’n idee nie! Daar is soveel liefde in hulle huis, dis amazing! Die laaste maand het ek geleer hoe spesiaal gewone dinge kan wees!” sê Mila opgewonde.

“Watse gewone dinge?” vra haar ma en kyk haar ondersoekend aan.

“Soos om te stap na ete of om grappe aan die etenstafel te maak. Om saam ’n bordspeletjie te speel of om skottelgoed te was … Ag, ek weet dit klink nou simpel, maar as Mamma daar was, sou Mamma geweet het wat ek bedoel,” sê Mila, skielik onseker van haarself.

“Miskien moes ek dit beleef het,” sê haar ma, nie onvriendelik nie.

“Hoe gaan dit met Mamma, gaan dit al beter? Is Mamma nog by die sielkundige?” vra Mila bekommerd.

“Ja, ek is en dit gaan beter. Ek besoek die sielkundige nog gereeld. Ek is ook nou vriende met Paul se pa. Hy is ’n besondere man. Hy gee my soveel onderskraging,” sê Leoni.

“Was Mamma toe al saam met hom kerk toe?” vra Mila nuuskierig.

“Ja, hy sleep my byna elke Sondagoggend of -aand saam,” sê Mila se ma en glimlag vir haar.

“Ek sien uit om vir Paul te sien, hy is ’n great pêl en hy bel my gereeld en bid vir my. Dit is seker hoekom dit so goed met my gaan,” sê Mila.

“Ek wens my geloof was ook so sterk, Mila. Ek het soveel issues. Ag, en ek mis vir Pappa baie! Dit voel of my hele lewe deurmekaargekrap is. As ek net kan rigting kry en glo,” sê Leoni en sug hartseer.

“Ek weet dit sal regkom en Mamma sal rigting kry. Dan kan ek ook weer by Mamma kom bly, want al bly ek lekker by die De Wets, mis ek vir Mamma!” sê Mila en haar oë skiet vol trane. Dit is vir Mila vreemd, maar dit voel of sy die afgelope tyd nader aan haar ma beweeg het. Haar ma het verander, dink Mila. Dalk het sy ook.

“Ag, Mila, en ek is by alles nog ’n slegte ma ook, want ek het jou na ander mense toe gestuur terwyl jy net soveel issues het om deur te werk. Ek is jammer …” sê haar ma en begin moedeloos huil.

Sy soek ’n stilhouplek langs die pad en soek in haar handsak na sneesdoekies. Mila sit haar arms om haar ma se nek. “Alles sal nog regkom, Mamma. Cynthia sê altyd: ‘Keep the faith’,” sê sy en glimlag.

“Ja, Cynthia … Sy is nou vir ons ’n voorbeeld, nè? Ek weet in die buurt waar sy bly, kry mense baie swaar en tog is sy die een wat altyd almal aanspoor om te glo en te hoop,” antwoord Leoni ingedagte.

“Ja, Mamma, maar al het sy min, is sy een van die mense wat regtig gelukkig is. Is dit nie weird nie?” vra Mila.

“Miskien lê die antwoord juis daarin dat geluk nie gaan oor hoeveel of wat ’n mens besit nie. Kyk hoe maklik het ons al ons goed verloor,” sê Leoni.

“Soos ek netnou gesê het, ek voel deesdae so gelukkig om eenvoudige goed saam met tannie Karen-hulle te doen,” verduidelik Mila. Sy vertel dan laggend: “Weet Mamma wat noem Cynthia vir tannie Karen? Secret Coz! Sy sê Ma het tannie Karen vir almal geheim gehou.”