“Mila, kom ek en jy en Paul gaan eet iets by ’n restaurant vanaand. Jy kan kies waar en waarvoor jy lus is,” sê Leoni later toe hulle alleen is en glimlag vir Mila.

“Dit klink lekker, ek sal vir Paul gaan vra,” sê Mila opgewonde. Sy het laas nog saam met haar ma by ’n restaurant geëet. Die De Wets het net nie geld vir sulke luukshede nie. In hulle huis was uiteet deel van die daaglikse roetine, dink Mila.

Dit is ’n lekker aand. Haar ma is so ontspanne en geselserig soos Mila haar nog nooit gesien het nie. Mila let ook dadelik op dat haar ma lemoensap drink en nie die wyn wat sy altyd graag gedrink het nie. Ek sal liewer niks daaroor sê nie, maar ek is so bly, dink Mila.

“Sien Mamma nog vir Rika?” vra Mila dan.

“Ja, sy kom juis môremiddag ’n draai maak om te sien hoe dit met jou gaan. Ons is nou groot vriende. Ons het saam ’n besluit geneem om die oormatige gebruik van alkohol te vermy,” sê Leoni en lyk trots op haarself.

“Ek is bly, Mamma. Ek het opgelet Mamma drink niks wyn nie,” sê Mila en haar oë blink.

As hulle later koffie in die woonstel drink, kan Paul nie uitgepraat raak oor die lekker stuk steak wat hy geëet het nie!

Dit was ’n lekker aand, dit voel sommer of alles nog gaan regkom, dink Mila. Voor hulle gaan slaap, gaan Mila na haar ma se kamer en gooi haar arms om haar nek.

“Dankie vir die lekker aand, Mamma!” sê sy spontaan.

“Wow, the most beautiful girl in the world!” sê Pano verspot toe hy Mila die volgende oggend sien. “Nice to see you!” en hy sit sy arm om haar lyf.

“Mila! Ons mis jou!” roep Savvas.

“Haai, julle almal, ek mis julle ook! Verkoop julle darem enige vis sonder julle top saleslady?” vra Mila en giggel.

“Ja, maar almal kry moeilik onder Savvas se tantrums! Hy het darem iemand aangestel om van volgende Saterdag af te kom werk. Dan sal dit seker beter met ons gaan,” skerts Pano.

“So, julle wil my nie meer terughê nie?” vra Mila kamtig vies.

“As ek jou kan terugkry, jaag ek tot vir Pano weg,” sê Savvas laf en trek speels aan haar poniestert.

“Vertel vir ons van Muizenberg! Hou Queenie van daardie buurt se vis?” vra Savvas.

“Ja, en sy eet nou tot katpilletjies saam met Carlos, ’n regte straatkat! Sy is smoorverlief op hom en steur haar nie aan sy afkoms nie!” vertel Mila en glimlag.

“Is jy ook verlief op ’n Muizenbergse straatkat, of moet ek nie vra nie?” vra Pano.

“Nee wat, ek hou nou my verliefdheid vir myself!” sê Mila beslis en dink dadelik weer hoe Montaldo haar gelos het. Nee wat, sy bly nou maar by vriendskap. Kyk hoe spesiaal is haar vriendskap met Paul en Kobus. Verliefdheid krap net alles om, sê sy vir haarself.

Saterdagmiddag kuier sy en Paul ’n hond uit ’n bos. Hulle kyk DVD’s, speel Scrabble en 30 Seconds. Later wedywer hulle teen mekaar met Paul se PlayStation.

Teen vieruur kom Rika kuier en wil alles van Mosselstraat se mense weet. Mila vertel van die verjaarsdagbal en Rika stel voor dat hulle haar hare in ’n korter styl sny. Rika besluit op ’n bob net bo haar skouers en sy leer Mila hoe om dit self mooi uit te blaas. Paul kla eers vreeslik oor hulle haar hare afsny, maar toe dit droog is, dink hy sy lyk baie mooi.