Paul se pa het Mila se ma saamgenooi na ’n funksie waar hy viool moet gaan speel. Sesuur kom hy haar haal.

“Gaan ons môre almal saam kerk toe en braai dan saam by ons huis?” vra hy.

“Dit klink lekker, moet ek ’n slaai bring?” vra Mila se ma dadelik. Mila se nek ruk byna af van verbasing. Sy het nog nooit gehoor dat haar ma aanbied om enige kos te maak nie! My ma is omgeruil of dalk nog iets ergers! dink sy ongelowig.

“En as jy my nou so aankyk, Mila? Ek kan slaai maak!” sê Leoni verontwaardig.

“Alles is maar net vir my vreemd,” sê Mila en skud haar kop.

“Om die waarheid te sê, ek het ingeskryf vir ’n kookkursus by Luigi se kosskool. Ek slaan ’n nuwe blaadjie om!” kondig haar ma aan.

Mila wonder wat Cynthia dáárvan sal sê en kan nie help om te begin lag nie.

Die kerkdiens is pragtig. Dominee Louis Els se teksvers is Habakuk 3:19: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” Dit is vir Mila so ’n mooi stuk in die Bybel. Sy voel sommer dit is spesiaal net vir haar. Die laaste tyd was nie vir haar maklik nie, maar sy het die luuksheid van die Here se liefde en sorg om haar gevoel. Sy kon op hoë plekke veilig loop, dink sy en voel ’n warmte in haar kom lê.

Na kerk drink hulle tee terwyl oom Diederich die vuur aansteek. Haar ma maak ’n lekker mengelslaai en oom Diederich slaan ’n aartappelgereg aanmekaar. Dit is gesellig buite om die vuur. Die oom vertel hulle van sy kinderdae en hoe hy vioollesse begin neem het. Later eet hulle almal saam om die tafel. Vir ’n oomblik voel alles vir Mila so reg, so asof hulle ’n regte gesin is. Sy mis ’n gesinslewe, dink sy. Sy voel skoon jaloers op die De Wets dat hulle so ’n lekker gesin is. Vir nagereg eet hulle roomys met sjokoladesous. Haar ma eet twee skeppies, iets wat sy nooit tevore gedoen het nie. Sy was nog altyd baie noulettend op haar figuur. Nee, haar ma is definitief getoor of geruil, maar die nuwe ma is vir haar cool! dink Mila.

Mila se ma nooi Paul en sy pa saam om Mila terug te neem Mosselstraat toe. Net voor hulle ry, vra Mila: “Mamma, hoekom kan ek nie nou maar weer hier bly kom nie? Dit gaan so goed met Mamma.”

Haar ma huiwer ’n oomblik asof sy haar woorde mooi agtermekaar probeer kry en verduidelik dan: “Ek wil graag nog tyd hê om myself te vind, Mila. As jy terugkom, moet ek vir jou ’n ma wees, verstaan jy dit? Voor ek dit kan doen, moet ek my eie issues opgelos hê. Ek besef nou hoe leeg my lewe was. Ek weet ook nou hoe onregverdig dit teenoor jou was om jou so min aandag te gee. Dit was net geld en luukshede wat getel het en toe dit weg is, was ek ’n leë dop. Dit het ’n massiewe skok gekos om my te skud. Dit was nie lekker om dit te ontdek nie. Ek kon eers nie cope nie, daarom het ek myself in ’n wynglas probeer vergeet. Danksy oom Diederich, wat my weer op die pad van die Here gebring het, sien ek myself nou deur ander oë. Nou besef ek geld maak die lewe makliker, maar vorm nie jou menswees nie. Ek wil graag iemand wees wat jy eendag sal kan onthou as jou ma en ek werk nou daaraan om so iemand te word.” Mila en haar ma se oë is vol trane.