Dan sê Leoni: “Dan is daar praktiese redes ook. Jy kan nie nou weer uit daardie skool gehaal word nie. So, jy sal tot ten minste einde Junie daar moet bly.” Mila verstaan, maar voel darem ’n bietjie hartseer daaroor.

Hulle ry met oom Diederich se motor Muizenberg toe. Hulle ry tydsaam tot daar en gaan stop eers langs die see. “Kom ons gaan stap eers ’n ent saam voor ons vir Mila gaan aflaai,” stel oom Diederich voor. Sy en Paul draf langs die see en die vars seelug teen haar gesig voel goed. Sy sien hoe lekker die oom met haar ma gesels en kan nie help om te wonder of haar ma en pa regtig gelukkig was nie. Hulle het nooit so rustig met mekaar gesels nie. Dit het nooit gelyk of hulle regtig mekaar se geselskap geniet het nie, dink Mila. Ai, hoe verlang ek nie nou na my pa nie, sê sy vir haarself.

Toe hulle later voor die huis in Mosselstraat stilhou, sê Mila dadelik: “Julle moet eers inkom. Tannie Karen-hulle sal teleurgesteld wees as julle nie inkom nie! Ek wil anyway my balrok vir julle wys.”

Almal klim uit en nadat hulle voorgestel is, sê Mila: “Tannie Karen, is my rok heeltemal klaar, kan ek dit vir my ma wys?”

“Hoe het jy geweet ek gaan die naweek daaraan werk? Ja, dis klaar, dit hang in jou kas,” sê tannie Karen en glimlag tevrede.

“Ek gaan dit gou vir my ma-hulle aanpas!” sê Mila opgewonde.

Helena maak solank koffie en haal bordjies en koekvurkies uit die kas vir die koffiekoek wat sy gebak het. Sy dra alles sitkamer toe. Haar ma bedien almal met koffie en koek. Toe Mila by die deur inkom met haar balrok, daal daar ’n stilte oor die geselskap. “Pragtig!” roep oom Ben eerste. Dan volg almal se uitroepe van bewondering.

“Mila, dis nou stunning,” sê haar ma.

“Dink Mamma regtig so?” vra Mila net om wéér te hoor dat haar ma dink dit is mooi. Dit is vir haar baie belangrik dat haar ma daarvan moet hou.

“O ja, Mila. ’n Mens kan sien dis spesiaal vir jou gemaak, want dit is jy!” sê haar ma met goedkeurende bewondering.

Sy gaan trek die rok uit en as sy terugkom, kuier almal lekker saam in die sitkamer. Paul en Kobus het dadelik baie vir mekaar te sê. Oom Ben hou ook duidelik van Paul se pa. Hulle gesels oor die groot verskeidenheid klein en middelslagmotors op die mark. Haar ma en tannie Karen gesels so lekker soos hulle seker nie geglo het moontlik is nie!

Toe tannie Karen later vra of sy toebroodjies kan gaan maak vir aandete, staan oom Diederich op en kondig aan dit is tyd om te ry. Mila druk haar ma vas en wil haar nog ’n bietjie by haar hou. Dit was nog nooit vir haar so moeilik om haar ma te groet nie. Sy voel asof sy haar dan nou eers gekry het! Mila se trane loop toe sy hoor hoe haar ma vir tannie Karen sê: “Dankie dat jy so goed is vir my kind.” Dan is hulle weg.

Natuurlik wil Kobus en Helena weet wat sy alles die naweek gedoen het en Mila moet verslag doen. Jaco kom wys trots die modelvliegtuigie wat hy en oom Ben gebou het. Hy wil duidelik ook ’n bietjie aandag by Mila kry. Dan is dit badtyd en slaaptyd, want môre is ’n nuwe week. Die naweek is al weer verby.