“mila, ek wil jou graag skilder. sal jy vir my kom sit?” vra tannie Karen die Maandag na die naweek wat Mila by haar ma deurgebring het.

“Wil Tannie dit regtig doen?” vra Mila ongelowig. Sy het gedink tannie Nelmari het sommer gepraat toe sy voorstel dat tannie Karen haar skilder.

“Ek wil regtig. Jy het so ’n mooi profiel, ek móét jou net skilder,” antwoord die tannie eerlik.

So begin Mila se middagsessies as model vir tannie Karen. Soms sit sy die hele tyd doodstil en praat nie veel nie, maar die meeste van die tyd gesels sy en die tannie oor die lewe.

“Wat is jou drome vir jou toekoms, Mila?” vra sy op ’n keer.

“Tannie weet, toe my pa nog geleef het, het ek nie veel oor die toekoms gedink nie. Ek was net seker dat ek nooit so ’n leë bestaan soos my ma wou lei nie. Ek het ook geglo al my drome was vervul, alles sal net in plek val. Maar nou is dit anders,” sê sy nadenkend.

“Hoekom anders?” vra tannie Karen.

“Omdat ek gesien het wat ek alles gemis het, terwyl ek gedink het alles is perfek!” antwoord Mila beslis.

“Vertel meer …” vra tannie Karen terwyl sy die verf meng om die presiese kleur van Mila se oë te kry.

“Ag, ek sien nou Cynthia was al die tyd reg. Daar is meer in die lewe as geld en luukshede. Julle gesin is ’n mooi voorbeeld. Julle is so ’n cosy familie. Ek wonder of julle weet wat julle het. Dis vir my amazing om te sien hoe nice julle met mekaar is. Ek het dit nooit geken nie. My pa was altyd weg en my ma besig met haar eie dinge en ek was sonder broers en susters …” Mila bly in die middel van die sin stil. Sy besef tannie Karen weet wat sy wil sê. Die waarheid is dat ek eintlik eensaam was, sonder om dit regtig te besef, dink Mila.

“Kom ek vertel jou ’n ding, Mila. Ek het al baie dae hier gesit met my verfkwas en palet en gewens ek was in Rome of Parys. Dan het ek gedroom dat ek ’n suksesvolle skilder was met geld en aansien. Nie ’n ma wat wonder hoe koop ek hierdie maand vir drie kinders skoene nie! As ek ’n aand lank sit en uitwerk watse vleis ek elke dag moet voorsit sodat daar altyd vleiskos op die tafel sal wees, dan droom ek van ’n groot kombuis met geelhoutkaste waarin ek enige eksotiese gereg kan maak, ongeag wat dit kos. As ek dink ek kan nie erger moedeloos voel nie, kom Kobus met ’n koppie tee, Helena vra of sy moet aandete maak of Jaco kom gee my ’n drukkie. Dan weet ek daar is niks wat ek wil verander nie, my lewe is luuks soos dit is,” bely tannie Karen.

Mila het nog nooit daaroor gedink dat iemand soos tannie Karen ook drome gehad het wat nie waar geword het nie. Sy vra dan: “Is Tannie nie jammer Tannie se skilderdroom kan nooit waar word nie?”

“Mila, jy sal leer dat die pad wat jy graag wou loop en die pad wat die Here vir jou bepaal, selde ooreenkom. Die Here sien die volle prentjie, maar jy sien net ’n klein deeltjie van die pad. As sy droom vir jou waar word, is dit ver beter as wat jy kon bid of dink!” antwoord tannie Karen. Dan verander sy die onderwerp. “Jou ma gaan deur ’n moeilike tyd, Mila. Jy moet geduldig wees en haar nie verkwalik dat sy jou weggestuur het nie. Sy het baie terugslae gehad en ek dink sy probeer hard om haar lewe reg te kry,” sê tannie Karen dan.