“Ek weet, Tannie. Ek neem haar nie kwalik nie, maar ek verlang om naby haar te wees en ek verlang na my pa. Al was hy so min by die huis, was hy darem gewoonlik naweke daar by die huis rond,” sê Mila en die trane dam in haar oë op.

“Ek bewonder jou, Mila. Jy hanteer alles so volwasse. Alles gaan nog regkom, jy sal sien! Miskien beplan God vir jou ’n spesiale toekoms, veel groter en beter as wat jý ooit sou kon droom!” troos tannie Karen.

Mila voel dat sy in die tyd hier in Mosselstraat baie na aan tannie Karen gekom het. Dit is amper vir haar soos om ’n tweede ma te hê, dink Mila. Op die ingewing van die oomblik sê sy dit vir die tannie.

Sy kry dadelik trane in haar oë, kom nader en gee vir Mila ’n drukkie. “Jy is vir my ook ’n spesiale kind, Mila. Ek is bly ons kon jou leer ken!” sê tannie Karen innig.

So tref Cynthia hulle een middag aan. “Secret Coz, hoe is dit dat jy vir Mila sit en paint?” vra Cynthia dadelik, baie nuuskierig.

“Sy het so ’n mooi profiel, ek wil haar sommer graag skilder,” antwoord tannie Karen en glimlag vir Cynthia.

“Ek weet nie van profiel nie, maar jy kan maar ’n paar van daardie paintings doen. Almal gaan dit wil koop,” sê sy trots, so asof sy ’n aandeel het in hoe Mila lyk.

“Nee wat, Cynthia, ek skilder dit net om dit self te hê. Ek is nie iemand wat geld probeer maak uit my werk nie,” skerm tannie Karen.

“Secret Coz, jy is dom. Jou paintings lyk goed. Dalk kan jy nog famous word ook! Anyway, ek het beskuit gebring, as julle nou ’n bietjie teetjies het …” skimp Cynthia.

Terwyl hulle tee drink, vertel Mila vir Cynthia van die verjaarsdagbal en draf kamer toe om die rok te gaan haal. Cynthia is gaande oor die rok en kan nie genoeg komplimente uitdeel nie.

“Gelukkig het jy darem baie van daardie fancy skoene van jou. Jy hoef seker nie nuwes te kry nie,” sê Cynthia op haar gewone reguit manier.

“Ja, ek het cool skoene wat daarby pas. Ek hoop net nie dit gaan ’n koue aand wees nie, want dan gaan ek maar koud kry,” sê Mila. “Helena, wys jou rok ook vir Cynthia,” sê sy toe Helena by die deur inkom.

Cynthia is weereens amper sprakeloos toe sy Helena se rok sien.

“Ek kan nie glo jy kon al die jare ’n secret bly nie, jy het dan so baie talente,” sê sy vol bewondering vir tannie Karen.

“Dankie vir al jou komplimente, jy laat my goed voel, Cynthia. Wat van nog ’n bietjie tee en beskuit? Die beskuit wat jy gebring het, is so lekker!” sê-vra tannie Karen.

“O nee, ek kan nie nog eet nie, ek moet in my extra large pas! Ek kan dit nie waag om vet te word nie,” keer Cynthia.

“Ek dink jy eet te veel lekker koekies en kos daar by die Putchelli’s, Cynthia. Jou extra large is in gevaar,” sê Mila en giggel.

“Nee, moet jy net nie worry nie, Milatjie, ek watch my figure!” verdedig Cynthia.

Mila vertel dan met smaak vir Cynthia dat haar ma kooklesse by Luigi gaan neem. Cynthia blaas eers soos ’n gans, slaan dan haar hand voor haar mond en sê: “Daar is nou ’n man met ’n moeilike job voor hom! Mevrou Leoni het ’n groot problem met kook!”