“Waar ’n wil is, is ’n weg, sê die mense! Wait and see!” is Mila se laggende kommentaar.

Later daardie aand bel Andrea. “Gaan dit nog goed met jou?” vra sy.

“Weet jy, Andrea, as ek mooi dink, gaan dit eintlik baie goed met my! Ek bly tussen die dierbaarste mense!” Mila vertel dan van Helena, Kobus en Paul. Sy vertel met opgewondenheid van haar nuwe vriendinne, Nane en Bessie. Sy vertel ook van tannie Karen wat haar skilder, Hannes en die verjaarsdagbal. Andrea vertel dan vir Mila van almal by haar ou skool, ook die een en ander oor Riaan en Montaldo. Dit voel vir haar of Andrea van mense praat wat sy eenmaal in ’n droom gesien het, maar wat deel is van ’n ander tyd. Kan ’n mens se lewe so gou so totaal verander? wonder sy en voel half treurig toe sy vir Andrea groet. Andrea is ’n nice meisie, maar hulle deel niks meer nie. Dis sad, maar waar, dink Mila.

Dan is dit die dag voor die verjaarsdagbal. Mila en Helena is vreeslik opgewonde. Die aand lê hulle laat wakker en beplan wat hulle met hulle hare en naels gaan doen. Hulle probeer ook plannetjies beraam hoe Helena Marius kan laat wakker skrik. “Dink jy hy hou ooit regtig van my?” vra Helena moedeloos.

“Ja, ek dink regtig so. En ek dink Paul hou ook van jou,” antwoord Mila en klink of sy ’n troefkaart gespeel het.

“Hoe kan jy dit sê!” roep Helena verbaas uit in die donker.

“Sjuut! Jou ma-hulle slaap al!” waarsku Mila en giggel voor sy verder praat. “Hy vra elke keer as hy bel wat jy doen en hoe dit met jou gaan. Nee wat, Helena, hy’s ’n fan!”

“Hy is nogal gaaf, maar weird. Ek weet nie of hy troumateriaal is nie, nie dat ons al troumanne soek nie! Wat dink jy?” vra Helena.

“Hy is nie die soort ou wat my bene lam maak nie, maar vir die regte meisie is hy ’n goeie vangs, hoor! Hy is ’n baie goeie ou,” verklaar Mila plegtig.

“Hy het baie mooi oë!” sê Helena nadenkend en dan: “… en ’n mooi glimlag …”

Mila lag haarself amper uit die bed uit en sê: “Jy klink kompleet asof jy besig is om jouself te oortuig Paul is die vonds van ’n leeftyd! Kalmeer, Leentjie, daar is darem nog oorlede Marius!”

“Ag, nonsens nou met jou! Ek dink sommer oor hom, oor jy nou van hom praat! Marius is darem ook nie só erg nie!” sê Helena ergerlik.

“O ja, hy ís! Ek dink dis tyd vir ons twee se beauty sleep! Ons gaan nie die Marius-probleem vanaand oplos nie! Nag Helena, lekker slaap,” sê Mila vakerig.

“Lekker slaap, Mila!” antwoord Helena sag en dan word dit stil.