“Ek is ’n gelukkige man met twee sulke skoonhede onder my dak!” sê oom Ben toe hy na Helena en Mila kyk wat, klaar aangetrek, met hulle balrokke in die sitkamer staan.

“Ek het nie gedink ’n mens kan dink jou suster en jou kleinniggie is mooi nie,” sê Kobus verleë en trap ongemaklik rond.

“Jy lyk self nie sleg nie, Broer,” sê Helena speels.

“Nane se hart gaan smelt vanaand,” skerts Mila.

Tannie Karen neem ’n foto van hulle drie en dan kom Marius om vir Helena te kry. Hy is duidelik baie beïndruk met haar. Mila knipoog agter sy rug vir Helena en prewel: “Go for it,” wat Helena laat lag.

Oom Ben neem Kobus en Mila bal toe en hulle laai eers vir Nane en daarna vir Hannes op. Nane lyk soos ’n feëprinses in ’n spierwit, regte wow-rok, dink Mila. Kobus kry byna nie ’n woord uit nie.

“Ouens is darem suckers vir ’n mooi meisie,” sê Mila geamuseerd saggies vir Kobus. Sy kry ’n kwaai kyk van hom wat sy aflag. As hulle ’n rukkie later vir Hannes oplaai, hakkel hy skoon as hy met Mila praat! Wil jy nou meer, dink Mila en skud haar kop.

Hulle kry Bessie en haar vriend, Henk, by die saal en hulle sit almal saam aan ’n tafel. Dit word ’n vreeslike lekker aand. Al die paartjies dans baie. Hulle dans ook met mekaar se dansmaats. As Mila ’n slag met Kobus dans, vertel sy hom dat Nane definitief mal is oor hom. Haar oë verlaat nie een keer sy gesig as hulle praat nie. As Mila kyk waar Nane op daardie oomblik is, vang sy ook haar oë weereens op Kobus. “Kyk, soos nou!” fluister sy en Kobus bloos as hy sien Mila is reg.

“Moenie jou kanse verspeel nie, my kamma-boetie!” waarsku Mila speels.

Hannes en Mila besef gou hulle sal niks meer as vriende wees nie. Sonder dat een iets sê, weet albei wat hy of sy van die ander een verwag. Niks meer as ’n gawe date vir ’n nice dans nie. Dis vir Mila lekker om net haarself te wees. Te gou is die aand verby.

Voor Mila aan die slaap raak, fluister Helena: “Mila, Marius het my gesoen! Believe that!”

“Way to go, girl!” fluister Mila opgewonde terug. Vir die eerste keer in maande wens sy dat sy ook iemand gehad het oor wie sy kon droom. Iemand vir wie sy wou mooi lyk en elke dag haastig was om te sien.