Kobus sit die volgende oggend aan die ontbyttafel sy pap asof in ’n beswyming en eet. Met ’n skaapagtige glimlag bring hy die lepel na sy mond in stadige aksie en vergeet om te kou. “Kobus het die skoot hoog deur, of hy is op drugs,” sê sy pa en lag kopskuddend.

Hy kry net ’n halfhartige “Hmm” as antwoord uit Kobus.

Helena en Mila bars uit van die lag. “Hierdie is erg!” sê Helena en sug kamtig.

“Ware liefde kan soos ’n siekte wees, sê hulle!” sê Mila.

“Waarvan praat julle nou?” vra Kobus verward, bewus dat hulle op hom sinspeel.

“Toemaar, Broer, droom verder. Jy is verskoon!” lag Helena.

“Hoekom lyk Kobus so?” vra Jaco.

“Hy is verlief,” antwoord Mila.

“Ek wil nie verlief raak nie, ’n mens lyk dom. Maak dit jou dom?” vra Jaco bekommerd en almal lag heerlik.

“Eintlik voel dit nogal goed, Jaco. Niks kan jou pla as jy so verlief voel nie,” sê tannie Karen en sit haar arm om oom Ben se nek. Hy soen haar skuins op die pols van die arm wat om sy nek is en gee haar ’n warm glimlag terwyl hulle mekaar ’n oomblik lank diep in die oë kyk. Sy voel of sy van iets spesiaals ’n getuie was, dink Mila. Sy hoop as sy so lank soos tannie Karen en oom Ben getroud is, sal sy en haar man ook nog met soveel liefde aan mekaar raak. Sy moet tog vir tannie Karen vertel dit is iets wat sy vir haarself droom, dink Mila.

Deur die loop van die dag vertel Kobus vir Mila dat Nane vir hom ja gesê het. Die volgende uur hoor sy van niks en niemand anders nie. Sy gee egter nie om nie. Sy is mal oor Kobus en Nane is haar nuwe vriendin. Sy is so bly hulle is bymekaar.

Sondag na kerk kom Nelmari Verster weer oudergewoonte tee drink, maar geniet dan haar soetwyntjie saam met oom Ben, met flair.

“Ek gaan die vakansie weer Sukkelvisbaai toe. Ek wil aan my nuwe boek begin werk,” kondig Nelmari aan. “Ek het besluit ek is moeg vir net my eie geselskap as ek daar is. Is julle drie kinders nie lus vir ’n vakansie op ’n vissersdorpie nie? Daar is niks behalwe die sand en see nie. Die enigste TV is by Griet se winkeltjie. Ek het ook nie een daar nie. ’n Mens moet die wêreld se dinge aflê as jy wil rus en dink. Wat sê julle?” vra sy afwagtend vir Kobus, Helena en Mila.

Hulle kyk na mekaar. “Dit klink cool,” sê Helena. “Wat sê julle?”

“Dit klink baie nice,” sê Kobus.

“Ek sal net met my ma moet praat, maar ek dink dit sal oukei wees. Dankie, Tannie. Sal tannie Karen dalk net na Queenie kan kyk?” sê-vra Mila.

“Natuurlik, Mila. Sy en Carlos is sulke groot maats, ek hoef niks te doen nie, net kos gee!” antwoord tannie Karen.

“Wonderlik! Dan is alles gereël!” sê Nelmari. “Mila, maar kom ons klaar sommer een ding nou uit. Hierdie getannie-sê moet sommer nou hier stop. Ek is Nelmari. Ek leef graag onder die illusie dat ek nog jonk is!”

“Sal jy later sê wat ons moet saamgee?” vra tannie Karen.

“Ja, maar nie veel nie. Hulle klere en miskien slaapsakke. Verstaan julle die term saamnooi? Ek is die gasvrou. Hulle gaan elke dag die kos maak, maar ek sal dit koop! Ek eet amper elke Sondag hier, dit is tyd vir terugbetaal!” verduidelik Nelmari.

“Dis dan reg so, ek sal vir julle iets lekkers maak vir saamvat. Natuurlik eet jy weer hier vandag. Daaroor voer ons geen debat nie!” sê tannie Karen beslis.

[contact-form][contact-field label=”Naam” type=”name” required=”true” /][contact-field label=”Epos” type=”email” required=”true” /][contact-field label=”Webwerf” type=”url” /][contact-field label=”Message” type=”textarea” /][/contact-form]