Die middag kom Mila se ma, oom Diederich en Paul onverwags daar aan. “Ons is ongenooid, maar ons was lus om by julle te kom koffie drink,” sê Leoni.

“Dis ’n heerlike verrassing, nè, Mila?” sê tannie Karen.

Mila val haar ma om die nek. “Dis só lekker om Mamma te sien. En natuurlik vir Oom en Paul ook,” voeg sy vinnig by.

Daar word dadelik vertel hoe mooi die meisies was met die verjaarsdagbal. Elkeen het iets te sê.

“Kobus het verlief geraak!” kom gooi Jaco sy stywer in die armbeurs. Almal begin lag en Kobus mik ’n hou na hom met ’n tydskrif.

“Jy’s te groot vir jou skoene!” brom hy vir Jaco en bloos bloedrooi.

Dan vertel Mila van hulle uitnodiging om die Junievakansie saam met Nelmari Verster Sukkelvisbaai toe te gaan. Mila se ma en oom Diederich het nog nie een van Sukkelvisbaai gehoor nie. Oom Ben verduidelik dat dit aan die Weskus lê, ’n paar uur se ry van die Kaap. Dit is egter eerder ’n gehuggie as ’n dorpie, vertel hy. Net ’n klompie vissershuisies en ’n winkeltjie. Nelmari het ’n kleinerige huisie met basiese geriewe daar. Sy gaan graag soontoe om te skryf, vertel hy.

“Kan ek maar saamgaan, Mamma?” vra Mila opgewonde.

“Ja, Mila, maar dit klink nie eintlik baie opwindend nie. Wat gaan julle heeltyd daar doen?” vra Leoni.

“By die see is daar altyd iets te doen. Mamma weet mos,” antwoord Mila met ’n glimlag.

“Ek het ook nuus,” sê oom Diederich. “Ek het ’n musiekpos by Amadeus Musiekskool hier naby julle gekry! Ek raak nou ’n bietjie oud vir die laat nagte se werk.” Gelukwensings kom dadelik van almal in die geselskap.

“Dit is cool, nè, Paul?” vra Mila en hy glimlag van oor tot oor.

“Dit gaan so great wees om my pa by die huis te hê. Jy weet nie hoe lekker dit vir my klink nie!” sê Paul bly.

“Kom ons gaan loop ’n bietjie langs die see,” sê Kobus vir die ander jongmense. Almal val geesdriftig in met die voorstel.

“Moenie te lank wegbly nie, ons kan nie lank bly nie,” sê oom Diederich vir Paul.

Hulle loop ’n ent langs die see. Paul en Helena het dadelik baie vir mekaar te sê. Miskien omdat Mila vir Helena vertel het dat Paul van haar hou, lyk Helena baie bewus van Paul.

“Jy het te lank gevat, Marius. Jou liefde is in gevaar!” sê Mila saggies vir haarself.

Later, toe haar ma-hulle ry, wonder Mila of sy haar verbeel dat haar ma en oom Diederich ’n vibe tussen hulle het. Dis iets waarvoor sy gevoelig is vandat sy hier by oom Ben en tannie Karen bly. Snaaks genoeg pla die gedagte van ’n ander man as haar pa in haar ma se lewe haar nie. Dalk sal dit haar ma help om van haar issues ontslae te raak. Oom Diederich is in elk geval so ’n great ou, dink Mila.

Die drie jongmense sien nou baie uit na die vakansie, maar eers moet die eksamen agter die rug kom! Die volgende twee weke sit hulle met hulle neuse in die boeke. Kobus loop soos ’n slaapwandelaar rond. Met die noem van Nane se naam lyk dit of daar ’n elektriese stroom deur hom gaan. Ook Paul bel deesdae elke aand, maar nou vra hy in die helfte van die gesprek om met Helena te praat. Dis so funny, dink Mila. Sy sal die tweetjies fyn dophou, afwagtend en oplettend …