toe die eksamen verby is, begin die drie

jongmense se groot planne oor die pakkery. Cynthia het, nadat sy van die seevakansie gehoor het, kom kuier met ’n hele klomp bakke en blikke vol fudge, koekies en beskuit. Natuurlik was sy almal se gunstelingpersoonlikheid! Kobus se grootste bekommernis is dat Mila eendag terug huis toe gaan en wie gaan dan vir hulle koekies bak? Hy het besluit hulle gaan Cynthia aanneem. Sy het ewe goedig daaroor gelag en heel in haar skik gelyk oor die aandag wat sy kry.

Mila se ma het ook ’n klomp eetgoed gebring: sakke met toffies, sjokolade, skyfies en vrugtestafies. Tannie Karen het pasteitjies gebak en gevries, ook wafels en twee hoenderpasteie.

“Liewe aarde, maar ons gaan darem vir jou éét!” is Helena se verbaasde kommentaar toe sy na die vrag eetgoed kyk.

“Jy hoef nie te eet as jy nie wil nie! Dan is daar meer vir my!” antwoord Kobus haar vermakerig.

“Dis nie fair nie. Hoekom kan hulle al die lekker goed kry en ek moet by die huis bly en kry niks?” vra Jaco en lyk skoon bedruk.

“Toemaar, ons gaan vir jou ook koekies en skyfies laat kry,” troos sy ma en vryf sy hare deurmekaar.

“Ja, en jy gaan drie weke lank die enigste kind wees. Dink net hoe gaan jy bederf word,” sê Helena.

“Dit gaan darem nie lekker wees sonder julle nie!” sê Jaco en lyk steeds ongelukkig.

Die oggend vyfuur hou Nelmari se afgeleefde kombi voor die deur stil. Dit kos nogal meet en pas om die eetgoed, hulle klere, slaapsakke en speletjies ingepak te kry. Kobus het dit op hom geneem om ’n verskeidenheid bordspeletjies en kaarte in te pak. “Vir die televisielose aande,” het hy opgemerk. Ook ’n krieketkolf en -bal maak deel uit van die vrag. “Vir al die strandtoernooie,” sê hy vinnig as Nelmari haar wenkbroue lig.

“Gaan julle vir ’n jaar Suidpool toe?” vra Nelmari.

“Nee, ons is net voorbereid en almal dink ons gaan die sewe maer jare binne,” antwoord Mila.

“Ek het nie probleme met daardie deel van die bagasie nie,” sê Nelmari en vryf oor haar ronde heupe.

Dit is al sesuur as hulle eindelik in die pad val. Seweuur eet hulle die ontbyt wat tannie Karen saamgegee het en dis amper elfuur toe hulle voor Nelmari se kliphuisie stop. Dit is ’n sonnige wintersdag en die see lê kalm ’n paar meter van die huis af.

“Dis vreeslik mooi hier,” sê Helena dromerig.

“Hier is darem regtig nie eintlik iets behalwe die see en sand nie, maar dit is mooi. So ’n ander manier van mooi,” sê Mila nadenkend, asof sy haarself wil oortuig.

“Kom, kom, moenie net daar staan nie. Ons moet die goed afdra!” roep Nelmari.

“Hoekom noem hulle dit Sukkelvisbaai?” vra Helena nuuskierig terwyl hulle die bagasie aflaai.

“Niemand weet eintlik nie. Die gedagte is dat ’n mens op ’n tyd nie veel vis hier gekry het nie, maar nou vang die vissers goed,” antwoord Nelmari. “Julle sal hulle ontmoet, almal kom altyd groet. Ek bring altyd vir die klomp tabak en lekkers saam,” sê sy met ’n glimlag.

“Waar slaap ons?” vra Helena.

“Jy en Mila slaap in die blou geverfde kamer en ek in die geel kamer. Kobus sal op die bankbed in die sitkamer moet slaap en sy klere by julle in die kas moet pak. Klink dit reg?” vra Nelmari. Almal knik instemmend. Hulle sou op die strand ook geslaap het as dit moes!