Na ’n uur of wat is al die kos weggepak en die kinders se klere in die kas. Nelmari het die gasstoof aangesteek en die koffiewater kook gou. Sy vul vir elkeen ’n bekertjie met koffie. Hulle sit om die kombuistafel en eet van Cynthia se beskuit saam met die koffie. Net buite die kombuisvenster breek die branders op die sand.

“’n Mens bly hier feitlik in die see se sak,” sê Nelmari. “Dit is dié dat my gees hier tot stilstand kom en ek kan dink.”

Dan loer twee kinders oor die onderdeur: “Môre, Misses Nelmari, ons het hout gebring!” roep die oudste van die twee.

“Hallo, julle twee. Dankie, julle is darem op en wakker met die hout. Ek het nog skaars gestop! Ek het vir my kinders saamgebring hierdie keer, kyk …” sê Nelmari en wys na Mila-hulle. Sy stel hulle aan die twee kinders voor. “Hierdie is Kobus, Helena en Mila, hulle kom my geselskap hou en kos maak.”

Dan vat sy vir Tjokkie aan die arm. “En dié twee is Tjokkie en Mavis. Hulle is Nippertjie en Mooi Mara se kinders. Julle sal hulle almal nog ontmoet. Hulle het nog ’n sussie ook. Haar regte naam is Rosa, maar haar pa het haar Blom begin noem en nou ken almal haar as Blom. Amper almal hier het byname,” vertel Nelmari.

Tjokkie is omtrent twaalf en Mavis tien, skat Mila. Hulle lyk duidelik opgewonde om Nelmari te help. Sy gaan haal vir elkeen ’n paar lekkers, wat hulle gretig aanvaar.

“Stap julle saam met Tjokkie en Mavis sodat hulle vir julle kan wys waar Griet Voete se winkel is en koop dan asseblief vir ons melk. Ek wou nog rakmelk van die Kaap af gebring het, maar ek het skoon vergeet. Hier gaan julle ook nie vars melk kry nie,” sê Nelmari en gee vir hulle geld.

“Waar bly julle?” vra Kobus vir Tjokkie-hulle, sommer om geselskap te maak.

“Daar by die nerfaf rooidak,” sê Tjokkie en wys met ’n vinger in die stofstraat af.

“Bly julle al lank hier?” wil Helena weet.

“Ja, ons is hier gebore, dis al plek wat ek ken,” sê Tjokkie. Dan sien hulle die vaalwit gewelwinkel met die rooi Coke-teken.

“Dit lyk eintlik vintage, so uit die fifties,” sê Mila. “Hoekom is die winkelvrou se naam Griet Voete?” vra sy nuuskierig vir Tjokkie.

“Sy dra nie skoene nie, het ôk nie! Sy was al in die hof met kaal voete en al. Moes glo special verlof kry om so da’ te verskyn. Sy is glo allergic vir skoengoed,” verduidelik Tjokkie ywerig. Mavis drentel net agterna.

“Hoekom is sy so stil?” vra Kobus en wys na Mavis.

“Sy is ma’ een met ’n bek vol tanne en min te sê!” antwoord Tjokkie en gee Mavis ’n stootjie met die plathand.

Griet Voete is ’n lang vrou met rooi hare wat sy in ’n rol agter haar kop vasmaak, kaalvoete wat duidelik nie skoene sien nie, ’n geblomde rok waarvan die blomme so groot soos koolkoppe is en ’n sproetgesig. Mila het eenkeer gehoor iemand sê: Hy het sproete soos ’n almanak waar daar net vakansiedae op is, en sy giggel toe sy weer daaraan dink. Griet se almanak het ook amper net vakansiedae!

Hierdie is nou ’n karakter, sê Mila vir haarself as Griet begin praat. “Uit watter oord waai julle uit?”

Hulle vertel dadelik dat hulle saam met Nelmari gekom het en sy glimlag dat jy net tande sien. “Welkom hier, lyk my die buitemense trap ons dood,” sê sy.