“Is hier dan ander mense ook?” vra Kobus.

As sy antwoord, weet hulle sy het gehoop hulle vra. “Ja, daar in oorle’ Koos Viskop se huisie is ’n universiteitsman. Skryf glo goed op van die plantgoeters hier rond. Hy is hier met sy seunskind, so omtrent julle ouderdom,” vertel sy. Hulle praat nog oor die een en ander en vra dan vir die melk en betaal.

Toe hulle omdraai om te loop, roep sy agter hulle aan: “Sê vir die boekvrou as sy reg is om ’n soetwyntjie te proe, ek sal hier reg staan met die proesel!”

“Wow, sy is snaaks! Veral as sy so brei, daardie proesel klink na pgoegsel,” sê Helena.

“Hier gaan regtig nie veel aan op dié ou plekkie nie. Die huise lyk almal eenders en so groot soos skoendose. Hoe kan ’n mens tevrede wees om vir altyd hier te bly?” vra Mila en lyk vol misnoeë.

“Dalk is hulle gelukkig. Hulle weet dalk nie van beter nie,” antwoord Kobus. Toe hulle by die huis kom, het Nelmari ’n pot sop op die gasstoof en in ’n bak op die tafel is goudbruin vetkoeke onder ’n vadoek.

“Jy kon onmoontlik nie so vinnig vetkoek gebak het nie,” sê Mila verbaas.

“Nee, julle sal nog moet leer van Sukkelvisbaai. Almal deel die bietjie wat hulle het. Anna Pram het gesien ons is hier en dit gou saam met haar Bianca gestuur. Ek kan nie glo daar was nog ’n fênsie naam soos Bianca oor toe sy by nommer sewe kom nie!” sê Nelmari.

“Oukei, is dit hoekom haar naam Anna Pram is?” sê-vra Kobus en lag.

“Sy is darem baie nice om die vetkoek te stuur. Hoe gee ’n mens soveel kinders kos op hierdie plek?” vra Mila.

“Die meeste kos kom uit die see en hulle plant groente, veral patats,” verduidelik Nelmari.

“Hierdie byname is darem snaaks. Anna Pram, Griet Voete, Koos Viskop, Nippertjie, Mooi Mara. Waar kry hulle al die name?” verander Helena die onderwerp.

“Elke naam het sy storie. Daar is ook ’n Mindermooi Mara en sy is skreeulelik!” sê Nelmari en kraai van die lag.

“Haai, Nelmari, hulle sê tog nie vir iemand in haar gesig ‘Mindermooi Mara’ nie!” sê Mila geskok.

“That’s the way it’s done in Sukkelvisbaai!” antwoord Nelmari en gooi haar hande in die lug.

“Ek hoop nie iemand besluit ek moet iets soos Muisvaal Mila word nie!” sê Mila en trek haar oë groot.

“Erger as ek Helena Haakneus word!” roep Helena en vryf oor haar neus. “Dit sal definitief gepas wees om ’n Kouende Kobus te hê. Hy eet al klaar weer ’n vetkoek!” sê Helena en wys na Kobus.

“Kom, Helena Haakneus, kom ons gaan loop ’n bietjie langs die see,” sê Mila spottend. “Dink jy Kouende Kobus sal vir ’n oomblik die kos kan los en saam met twee sulke cool girls soos ons langs die see kom stap?” vra sy dat hy kan hoor.

“Waar is dié cool girls nogal?” vra Kobus, maar drentel nietemin saam met hulle na buite.