“Miskien moet ek vir julle vertel hoe ek my tyd indeel as ek skryf. Ek skryf graag in die middae van tweeuur tot so sesuur en dan weer van agtuur tot twee-, drieuur in die nag. Ek slaap dan laat, gaan stap langs die see en maak kos tot ek weer skryf. So, ek sal bly wees as julle julle eie ontbyt maak en in die aande beurte maak om iets vir aandete te maak. Klink dit oukei? As ek werk, steur ek my nie veel aan kos nie,” verduidelik Nelmari na ete die aand. Die kinders het nie probleme daarmee nie. Hulle begin net weer stry oor wie maak die slegste kos en die arme Kobus word weer erg deur die meisies beskuldig.

“Ons sal sien wie kyk almal op hulle neuse!” dreig Kobus.

Net toe is daar ’n klop aan die deur. “Naand, Nippertjie. Waar loop jy so laat rond?” vra Nelmari.

“Ek het vir julle vis gebring vir ’n welkom persent. Dis klaar skoongemaak, nou net vir gaarmaak en eet,” sê hy op ’n verleë manier.

“Dankie, dis ’n lekker present. Hoe is die vangste deesdae?”

“Dis oukei, maar met die permitte wat so skaars is, worry ons maar baie. Waarvan sal ons leef as dit nie vir die vis is nie?”

“Dié permitstorie maak my vies. Ek wil sommer die owerhede gaan aanvat! Al die groot visserye kry permitte en julle ouens wat grootgeword het as vissers moet sukkel. Dis sommer nonsens!” sê Nelmari en klink soos ’n regte aktivis.

“Nelmari, dit klink kompleet of jy daarvoor sal gaan toi-toi!” sê Kobus en voer ’n danspassie uit.

“O ja, ek sal beslis!” antwoord sy. Nelmari stel nou eers die kinders aan Nippertjie voor. Hy groet elkeen afsonderlik en sê vir hulle welkom. Dan trippel hy rond en hulle sien hy is haastig om te loop.

“Dan sê ek maar nag. Mooi Mara wag al met die supper,” sê Nippertjie en lig sy hoed.

Toe hy weg is, sê Nelmari: “Hier op Sukkelvisbaai kry jy die sout van die aarde! Mense wat nog nie deur die luukshede van die wêreld bedorwe is nie!”

“Dink jy geld laat mens bedorwe word?” vra Mila nou vir Nelmari.

“Ja, ek dink tog so. Armoede kweek afhanklikheid van jou medemens en vrygewigheid. Dan veroorsaak dit definitief ook nederigheid. As ’n mens geld wegvat, wat bly oor om jou mee te vermaak? Ek sal jou sê, jou vriende en familie, dis hoe ek dit sien!” antwoord Nelmari eerlik.

“Dit is darem cool om geld te hê! Almal met geld kan ook nie sleg wees nie,” skerm Mila.

“Daar stem ek ook saam met jou, maar ek dink geld en luukshede maak dit net moeiliker om nederig en nice te wees!” antwoord Nelmari. “Anyway, ek het ’n boek om te skryf. As julle later tee maak, ek drink graag saam!” sê sy en verdwyn kamer toe.

Hulle speel 30 Seconds tot laat. Hulle maak melkkoffie en neem vir Nelmari ’n koppie tee kamer toe, en gaan klim dan vaak-vaak in die bed.