Toe Mila die volgende oggend vroeg wakker word, slaap almal in die huis nog. Sy trek vinnig haar sweetpakbroek en langmoutop aan met ’n dik baadjie bo-oor. Ek is mal oor die strand so vroeg, dink Mila, en hierdie strand het juis ’n spesiale bekoring. Die vars oggendlug maak dat haar wange tintel en sy steek haar hande diep in haar sakke terwyl sy al met die strand langs stap. Dan sien sy hom, die jong, blonde ou met die dik blou trui en jeans waarvan die broekspype ’n ent opgerol is. Sy weet sommer dit is die jong ou van wie Griet Voete gepraat het.

“Hy is ongelooflik mooi!” sê sy saggies vir haarself soos hy naderkom. Hy het iets van Hugh Grant in hom en sy is mos so mal oor dié man, dink Mila. Haar maag trek skoon op ’n knop.

“Hallo. Dit lyk my ons hou al twee van die see so vroeg in die môre,” sê hy vriendelik toe hy by haar kom. Sy glimlag is to die for! Dan voeg hy by: “My naam is Arno.”

“Ek is Mila,” sê sy. Sy vertrou nie haar stem nie, hy ontsenu haar heeltemal.

“Hou jy vakansie hier?” vra Arno.

“Ja, ons is saam met ’n vriendin hier, Nelmari Verster, die skrywer. Sy het kom skryf en ek, my niggie en neef is saamgenooi. Eintlik kleinneef en kleinniggie. Never mind, dis complicated. En jy?” antwoord Mila, ’n bietjie oorhaastig en deurmekaar.

“Ek is hier saam met my pa. Hy is ’n botanis en is besig met navorsing oor plante in hierdie streek. My pa is ’n groot fan van Nelmari Verster. Ek wonder wat hy sal sê as hy hoor sy is ook hier,” antwoord Arno.

“En jou ma, is sy ook hier?” vra Mila.

“Hulle is drie jaar gelede geskei. Sy bly ook in Kaapstad en ek kuier eintlik net vakansies by my pa. Ons was al twee keer hier, maar dit is baie alleen. Ek is so bly julle is ook hier!” antwoord Arno.

“Is jy nog in die skool? vra Mila.

“Ek is in matriek,” antwoord Arno en vra dan: “Wat van julle?”

“Ek en Helena is in graad elf en Kobus is ook in matriek,” sê Mila.

“Kom ons stap nog ’n ent met die strand langs, of is jy nie lus nie?” vra Mila versigtig. Hy gee haar weer ’n verblindende glimlag en sê hy wil graag. Op daardie oomblik weet Mila sy is verlore. Sy het al gehoor van liefde met die eerste oogopslag, maar het nog nooit daaraan geglo nie. Op hierdie oomblik glo ek daaraan met my hele hart, dink sy en kreun van die warmte wat deur haar spoel.

“Helena! Word wakker!” roep Mila toe sy ’n ruk later by die huis aankom. “Ek moet jou iets vertel!”

“Wat?” vra Helena deur die slaap. Sy lyk glad nie opgewonde om wakker te wees nie.

“Ek is heeltemal, totally, smoorverlief!” sê Mila.

“Mila, is jy lekker? Op wie het jy in die nag verlief geraak, dis skaars oggend?” vra Helena.

“Sy naam is Arno en hy is beautiful!” sing-praat Mila in ekstase.

“Wat? Wanneer? Kom ons gaan maak liewer koffie, dan sal ek dalk jou storie snap,” stel Helena voor en sukkel onder die komberse uit.

Terwyl Mila koffie maak, vertel sy elke detail van die oggend se ontmoeting. Kobus kom ook vaak-vaak by die kombuis ingestrompel. “Oor wie rave jy so, Mila-kind?” vra hy.

“Arno,” sê Helena, wat daarvan hou om ’n storie uit te rek en Kobus stadig en met smaak in te lig.

As Kobus ook alles weet, sê Mila: “Ons kry hom elfuur by die skerp rotse vir krieket. Ek kan skaars wag!”

’n Halfuur later bel Paul. “Wat hoor ek dat jy verlief is?” vra hy nuuskierig.

“Good news travels fast danksy nuusdraer-Helena, sien ek!” sê Mila. Sy gee egter nie om nie. Paul is haar goeie vriend, sy sou hom in elk geval vertel het. Helena het egter die kans aangegryp om ’n bietjie met Paul te praat, dink sy. Kobus het ook gisteraand vir Nane gebel. Die love fairy is besig!

Miskien gaan hierdie vakansie nog baie interessant word, dink Mila opgewonde en skryf met haar vinger Arno se naam op die spieël …