mila sien van ver af hoe sy blonde hare in die winterson blink en dit voel of haar maag omdraai. Haar hart klop in haar keel en sy raak al hoe meer benoud hoe nader hulle aan hom kom. Wat gaan die ander twee van hom sê? wonder sy.

“Haai, Mila,” sê hy en glimlag breed.

Daardie glimlag laat die engele sing! sê sy innerlik vir haarself, maar vir hom sê sy: “Hier is die hele span, Helena en Kobus,” sê sy en wys na haar metgeselle.

Hulle groet en gesels ’n rukkie en dan deel hulle twee-twee in ’n span. Arno en Mila is in ’n span teen Kobus en Helena.

As Arno buite hoorafstand is, sê Kobus. “Ek is bly jy is nie in my span nie. So verlief soos jy lyk, sal jy niks werd wees nie!”

“Ag, Kobus!” is al wat Mila sê en sy gee hom ’n kwaai kyk.

Kobus se profetiese woorde word waar en hy en Helena wen ver.

“Kom eet vanaand by ons. Mila gaan kos maak. Dalk kry jy kans om ’n death wish uit te spreek,” sê Kobus spottend.

“Sal Nelmari Verster nie omgee nie?” vra Arno onseker.

“Nee, sy’s cool, sy sal nie ’n probleem hê nie. Wat sê jy?” vra Kobus.

“Oukei, as dit ook met Mila reg is. Sy maak mos die kos!” sê Arno.

“Natuurlik is dit reg!” sê Mila vir Arno en vir haarself sê sy: Hoe sal dit nie reg wees nie, betaal maar net met een van daardie flashing smiles …!

Toe hulle na die krieket by die huis kom, het Nelmari vir hulle die vis gebak wat Nippertjie gebring het. Die goudgeel stukke vis staan in ’n blou erdebak op die houttafel. Langsaan is ’n ronde, goudbruin pas gebakte potbrood, botter en korrelkonfyt uitgesit.

“Sjoe, dit lyk vreeslik lekker,” sê Kobus so opgewonde soos net kos hom kan maak.

“Die donkerblou borde en die kos lyk asof dit ’n foto in ’n tydskrif kan wees,” merk Helena op.

Gou kry hulle plekmatjies en dek die tafel klaar. As elkeen sy plek langs die tafel ingeneem het, vra Nelmari die seën en hulle begin hongerig eet.

“Nelmari, jy glo mos aan die liefde? Ek bedoel, jou boeke is mos ’n bietjie romanties ook?” vra Kobus en die meisies kyk hom vraend aan. Waarmee is hy nou weer besig? wonder Mila.

“Ja, ek het ’n romantiese siel. Pasop as ek jou begin vergas op my gunstelingliefdesgedigte! Maar hoekom vra jy?”

“Nee, ek wonder net of jy kwaad sal wees as jy hoor ek het iemand vanaand vir ete genooi, sonder om eers vir jou te vra. Dit is alles ter wille van Mila en die liefde!” vertel hy en glimlag vermakerig vir Mila.

“Mila, wat hoor ek nou!” terg Nelmari en vervolg ernstiger: “Natuurlik kan julle iemand nooi! Is dit nie Mila se kosbeurt ook nie?”

“Net so. Ons stel die arme Arno dadelik aan haar kos bloot! As hy op haar verlief raak ondanks haar kos, dan is dit ware liefde,” verduidelik Kobus plegtig.

Hulle vertel dan vir Nelmari wie Arno is en hoe Mila hom raakgeloop het. Ook dat sy pa glo ’n aanhanger van haar skryfwerk is.

“Dan moet ek hom ontmoet. Hy is dalk tall, dark and handsome en keer ek hom sommer aan. Sal dit nou opspraak verwek! Dis nou te sê, as hy van die voller figuur hou!” spot sy