Laatmiddag pak die wolke saam oor die see en dit word skielik baie koud. Mila maak pannekoekdeeg aan. Dit is net die regte weer vir pannekoek, besluit sy. Sy maak ’n mengsel van maalvleis en tuna om die pannekoeke mee te vul. Net voor sesuur daag Arno op en feitlik op sy hakke Griet Voete met ’n bottel soetwyn. Nelmari skuif agter die rekenaar uit en gou sit sy en Griet elkeen met ’n glasie soetwyn by die houttafel. Die kombuis ruik na pannekoek en die kruie in die maalvleis. Kobus het vir die ander wat nie soetwyn drink nie, koffie gemaak en die geur van die koffie dra by tot die geselligheid in die kombuis. Griet vertel stories van Sukkelvisbaai se mense en almal hang behoorlik aan haar lippe. Mila se oë draai kort-kort na Arno se kant toe. Haar vinnig-kloppende hart bemoeilik die pannekoekbakkery. Veral toe hy aanbied om haar te help en haar te leer om die pannekoek in die lug op te gooi en weer te vang, moet sy haarself ernstig aanspreek.

Een glasie soetwyn word drie en toe Kobus weer aanbied om die glasie vir Griet vol te maak, hou sy haar hande in die lug. “Nee, ’n mens moet nog proe vir môre ook los. Ek het dit op die harde manier geleer …”

Toe sy sien hulle kyk haar afwagtend aan, vertel sy die storie met haar eie aksent en Weskusmanier. “Dit was so ’n paar Krismisse terug. Ek was die dag voor Krismis Lambertsbaai toe en toe ek namiddag by die huis kom, kry ek op die stoep ’n kannetjie tuisgemaakte likeur met ’n briefie dat dit van Lina Windpan kom met Happy Krismis en al daai soort wense. Dit was warm ek was moeg, en ek dog toe so: Kom ek sit op die trappie en proe eers ’n bietjie hoe dit smaak. Sommerso uit die kannetjie proe ek toe. En was dit nou vir jou lekker! Ek proe toe nog ’n bietjie en nog ’n bietjie en nog … En toe is dit op! Mensig, en ek kry ’n vreeslike vaakte oor my en ek sleep my lamme lyf bed toe vir ’n klein bietjie se dut. Met die wakker word is dit toe laatmiddag die volgende dag! Krismis het ek amper skoon gemis!”

“Het jy sowaar 24 uur aanmekaar geslaap?” vra Nelmari ongelowig.

“Nes jy daar sê, Vrou! Ek sê toe vir my gaar eend in die yskas: ‘Ek en jy het toe al twee Krismis gemis, lucky you!’”

Al die kinders lag lekker. Griet kyk hulle ernstig aan en beklemtoon: “Die les is: Dis als wel om Krismis te mis, maar as jy te veel proe, kan jy jou lewe mis. Dit is waarteen jy moet waak en bid!”

“Jy meen soos met alkoholisme?” vra Helena.

“Ja, die geneigdheid om te veel te proe!” sê Griet en sy lag dat jy net tande sien.

Griet eet op die ou end aandete saam met hulle. Almal dink Mila se kos is baie lekker. Na ete speel die kinders kaartspeletjies tot laat. Toe Arno regmaak om huis toe te gaan, vra hy vir Mila: “Loop jy elke oggend vroeg so alleen rond?”

“Ja, dis vir my só nice,” antwoord sy en gee hom ’n glimlag wat enige ou se bene jellie sal maak.

“Dan wag ek môreoggend vir jou hier onder,” sê Arno en beduie af met die strand. Mila stem natuurlik dadelik in en verlustig haar in die vooruitsig om hom vroegoggend weer te sien. Dit is nou nice! dink sy, baie tevrede met haarself.