Selfs die misreën demp nie Mila se opgewondenheid die volgende môre nie. Sy trek ’n windbaadjie met ’n kappie oor haar rooi trui aan en sit dadelik op ’n drafstap af see toe. Arno se blonde hare is teen sy kop geplak van die klam lug en sy blou oë is blink en helder. Hy is darem vir my vreeslik mooi, dink Mila en sy sug innerlik.

“Ek was bang jy kom nie. Ek meen nou oor die weer so goor is,” sê Arno en Mila is bewus van iets spesiaals in sy stem.

“Daar is nie ’n manier wat ek dit sou mis nie!” sê sy eerlik en kyk na hom met oë wat niks wegsteek nie.

“Kom ons stap ’n entjie,” sê Arno en vat haar hand asof dit so gereël is. Sy hand voel sterk en glad en baie warmer as haar eie. Mila maak haar oë ’n oomblik toe. Binne-in haar dank sy die Here vir Arno. Sy weet sy het nog nooit so gevoel nie. Montaldo was maar net ’n soort modegier, iets wat sy ook moes hê. Hoe kan Mila wat alles het, nie ’n ou hê nie? Hy was ryk en aantreklik en selfversekerd. Dus, iemand vir Mila Hartman, dink sy sinies. Van Arno weet sy min, maar sy weet dit wat sy reeds van hom weet, is eg en suiwer. Dit het die nuwe Mila nou nodig, sê sy vir haarself.

“Hoekom is jy so stil?” vra hy.

“Ek dink hoe baie ek die laaste ses maande verander het,” sê sy eerlik. Dan begin sy hom alles vertel. Sy vertel hom van die pad wat sy geloop het sedert haar pa se dood. Sy vertel van Cynthia, tannie Karen-hulle, Paul en ook van haar verhouding met Montaldo. Hy luister met aandag en sy sien die jammerte in sy oë.

“Wow! Wat ’n storie het jy nie om te vertel nie!” sê hy dan simpatiek.

Hy trek sy reënbaadjie uit en sit dit op die sand vir haar om op te sit. Sy skuif so dat daar vir hom ook ’n plekkie is. Mila is oorbewus van hom so na aan haar. Hulle gesels raak nie op nie. Hy vertel haar van sy ma, sy stiefpa en stiefbroer. Hy praat oor sy skool, vriende en rugby, waaroor hy mal is. Dan vertel hy van sy pa en hulle wonderlike verhouding, al bly hulle nie meer in een huis nie. Hy bly ’n oomblik stil en deel dan met haar die pyn wat hy met sy ouers se egskeiding ervaar het.

Sy kry hom vreeslik jammer en sit vir ’n oomblik haar arm om sy lyf. Hy draai na haar, sit sy een hand teen haar wang en soen haar baie versigtig … Dit voel vir Mila of die tyd gaan staan het. So moet dit in die hemel voel! dink sy. Hulle praat nie, dit is of die oomblik te heilig is om iets te sê. Voor sy later huis toe loop, soen hy haar weer en Mila voel of sy weer iewers hoort …

Sondag gaan hulle kerk toe in Clanwilliam. Hulle nooi vir Arno saam en Mila se hart sing om langs hom in die kerk te sit. Voor hulle huis toe gaan, drink hulle tee by een van Nelmari se jeugvriende, Ansie Horak. Sy wil glad nie hoor dat hulle huis toe gaan sonder om eers middagete te eet nie.

“Dis vir my amazing dat hierdie streek se mense soveel het om te deel: hulle kos, hulle hulp en liefde!” sê Mila vir Arno.