“Ek dink hulle het dalk die basics van menswees ontdek, want andersins het die meeste van hulle nie veel nie,” sê Arno nadenkend.

Die Sondagaand bel Mila se ma en klink baie opgewonde. “Ek het wonderlike nuus, Mila!” roep sy in haar oor.

“Mamma klink opgewonde. Wat is die nuus?” vra Mila nuuskierig.

“Ek het vandag ’n wonderlike waarheid ontdek! Dit is nie genoeg om te glo Jesus het bestaan en aan die kruis gehang nie. Jy moet Hom ook erken en aanvaar dat Hy vir jóú aan die kruis gehang en vir jóú sonde gesterf het! Ek het altyd gedink ek glo mos aan die kruisiging en is oukei, maar vandag het ek besef ek moet Hom vra om my sondes te vergewe. Ek moet vir Hom sê ek aanvaar Hom as my Verlosser! Mila, nou eers kan ek sê: Ek is verlos van sondeskuld, ek is ’n verloste!” Leoni is skoon uitasem gepraat.

“Ek is so bly, Mamma! Die Here het vir my en Mamma ’n moeilike pad laat loop, maar as ek na die afgelope ses maande kyk, is dit wonderlik hoe Hy dit vir ons beplan het! Dit was alles met ’n amazing doel!” sê Mila met oë vol trane.

“As jy terugkom, moet ons praat oor wanneer jy weer by my moet kom bly, reg so?” vra Leoni.

“Dit is goed, Mamma! En Mamma, ek het ’n great ou ontmoet, sy naam is Arno …” Mila wil eintlik meer vertel, maar weet ook nie mooi wat nie. Tog dink sy haar ma weet wat sy eintlik wil sê.

“Ek is bly! Lekker slaap, Mila-kind,” groet haar ma en Mila hoor sy klink tranerig. Hoe anders is haar ma nie deesdae nie! dink sy.

Maandagoggend as die son oor die see opkom, loop Arno en Mila langs die see.

“Glo jy Jesus is jou Verlosser, Arno?” vra Mila sag.

Sonder om te aarsel sê Arno: “Ja, dit glo ek. Amper twee jaar gelede was ek op ’n jeugkamp en het daar myself vir die Here gegee.”

Mila glimlag bly vir hom. Dit is daarom dat hy so ’n sagtheid in hom het, dit is die Heilige Gees wat in hom is, dink sy gelukkig en vertel hom van haar ma se oproep.

“Dis wonderlik, Mila.”

“Weet jy, Arno, jongmense dink hulle moet soveel verander as hulle Christene word dat hulle onaanvaarbaar vir ander sal word. Dis nonsens. Ek is nog net so vol dinge en grappies as toe ek nog nie die Here in my hart gehad het nie. Nou het ek egter ook die dinge in my hart wat die Here vir my gee. Dit maak my net soveel makliker om mee oor die weg te kom. Sonder meerderwaardigheid! Is dit nie cool nie?”

Die middag neem Mila en Helena vir Mooi Mara ’n bak muffins wat Nelmari gebak het. Die hele ent pad babbel Helena oor alles wat Paul te sê gehad het toe hy vroeër die dag gebel het.

“Helena, jy kan dit nou maar erken, Marius is geskiedenis en Paul is die ou vir jou!” sê Mila.

“Ag, Mila, hoe kan ek stry? Hy is weird en wonderful, alles in een,” erken sy en sug.

“Toemaar, een van die dae is jy weer by die huis. Dan gaan hy sorg dat hy jou sien!” troos Mila.