Mooi Mara is in haar kombuisie besig as hulle aanklop. Sy groet met soveel hartlikheid, Mila voel eintlik minderwaardig.

“Kom sit, ek maak ’n koffietjie,” sê sy dadelik en haal twee bekertjies uit die kas. Alhoewel alles skoon en netjies is, is dit eenvoudig en armoedig. Mila voel hoe ’n knop in haar keel vorm. Sy kyk na Mooi Mara se verbleikte rok en kan nie help om te dink aan die massas rokke met name van die who’s who in die klerebedryf wat in haar en haar ma se kaste hang nie. Mila wil huil van skaamte! Wat het hulle hulle verbeel dat hierdie land se klere nie goed genoeg is nie? As sy by die huis kom, gaan sy vir Mooi Mara ’n pakkie opmaak en stuur. Sy is so wonderlik, sy verdien die beste klere, dink Mila. Tog, kyk, sy is Mooi Mara selfs sonder ’n Prada-uitrusting! betig sy haarself.

Terwyl hulle koffie drink, bring Blom vir Mila ’n prentjie van ’n stokmannetjie en stokvroutjie wat hand aan hand langs die see loop. Sy wys skaam na Mila en sy besef dit is veronderstel om sy en Arno te wees. Blom moes hulle gesien het en die vetkrytskepping van hulle gemaak het.

“Dankie, Blom, dit is so mooi! Ek gaan dit teen my spieël opsit,” sê Mila en gee haar ’n drukkie. Blom glimlag haasbek vir haar, tevrede dat Mila daarvan hou.

Mooi Mara vertel dadelik trots hoe mooi sy al teken en hoe fluks sy kan werk.

“Ons moet huis toe gaan. Ons het Arno en sy pa vir ete genooi, onthou,” sê Helena dan en Mila spring op.

“Gelukkig maak Kobus kos, maar ons sal hom maar moet help,” sê Mila.

Nelmari het vroeër opgehou werk en ’n mooi groen broekpak aangetrek. Sy het selfs grimering aan, merk Mila op. Kobus is besig om vuur te maak om vis te braai. Hy het aartappels in die skil gekook, kerriebone-slaai en ’n potbrood wat hy self aangemaak en laat rys het.

“Ek sien jy weet van kos maak,” terg Mila.

“Ja, ek maak mos naweke kos by die huis! Het jy gedink ek kan net toebroodjies maak?” vra Kobus.

“Oukei, ek het mos al van jou kos geëet. Moenie so skerm nie!” keer Mila.

“As my ma weer bel, gaan ek sê jy het nie geloof in my vermoëns nie!” kla Kobus.

Mila wil nog iets sê, maar skielik staan Arno langs haar, met die ouer weergawe van hom agter hom.

“Is dit nou Mila? Jy is nog mooier as wat aan my vertel is!” sê Herman du Preez en sy blou oë lag nes dié van sy seun. Mila is dadelik mal oor die oom. Nelmari kom uit en lyk verras om so ’n aantreklike man voor haar huis langs die vuur te kry. Die aand is vir almal lekker. Nelmari en oom Herman gesels ure lank oor letterkunde, uitgewers en boekwinkels. Vir Mila is enige aand wat Arno insluit, wonderlik verby. As hulle eers na elf loop, is almal oortuig dat dit so ’n lekker aand was, hulle moet dit weer doen. Herman du Preez nooi hulle daar en dan om die volgende Saterdagaand by hulle te kom braai.

“Lekker, ek mis my kosbeurt,” sê Mila.

“Dan maak jy slaai by ons huis, so maklik kom jy nie weg nie!” spot oom Herman dadelik.

Mila sug en sê: “’n Mens kan ook nie wen nie!”

Dan groet hulle. Mila voel hoe Arno se oë haar aanraak voor hy net saggies fluister: “Nag, Mila, ons sien weer môre!”