die dinsdag nooi nippertjie vir arno en Kobus om die volgende dag saam met hom en Salie te gaan visvang. Salie is ’n jonger neef van Nippertjie wat by ouma Lien, Nippertjie se ma, woon. Die ouens is baie opgewonde en Woensdagoggend toe dit net lig word, is hulle al weg na Nippertjie se boot by die pier. Die ander vissers is ook besig om gereed te maak om uit te gaan.

Mila stap saam met Kobus, want sy wil nie die kans om Arno te sien mis nie. Nippertjie en Salie is al besig met die visvanggoed. Mila is verbaas om Blom saam met haar pa te sien.

“Die kind neul al so lank om saam te gaan op die boot. Ek sê toe vir Mooi Mara dat met die seuns wat vandag saamgaan, kan sy ook maar kom,” vertel Nippertjie vir Mila.

“Jy moet soet wees, Blom. Ek hoop dis vir jou lekker!” sê Mila en glimlag vir Blom.

Die skaam kind knik net haar kop, maar lyk baie ingenome met die dag se vooruitsig.

Toe alles gereed is vir die uitstappie, wag Arno tot niemand in hulle rigting kyk nie en soen Mila vinnig en fluister: “Ek is gek na jou!” Hy gee haar een van sy flitsende glimlagge en haar hart slaan bollemakiesie! Wow! sê sy vir haarself, as jy oulik is, ís jy oulik!

Toe die boot oor die golwe op pad is diepsee toe, wuif Mila oordadig. Lank sien sy Blom se handjie opgewonde terugwuif.

Mila en Helena help Nelmari om die huis van hoek tot kant skoon te maak. Sy en Helena jaag mekaar met die stoffer en besem rond. Oor die radio sing Lienka van ddisselblom: “Ja, dis luuks, dis luuks vir my …”

“Ek is mal oor dié liedjie,” jubel Helena. Sy gryp Mila om die lyf en maak ’n paar danspassies saam met Lienka.

“Ek hoop julle werk ook, as dit hier by julle so lekker gaan,” sê Nelmari laggend.

“Natuurlik, daar’s ’n lied in die Liedboek wat sê dat ons moet werk met vreugde!” sê Helena snipperig.

Hulle trek lootjies wie die kombuisvloer moet was. Die lot val op Helena en ewe verspot doop Mila haar dadelik Aspoestertjie, wat Helena laat besluit Mila is een van die nare stiefsusters.

“Wie is die prins op die wit perd dan?” vra Mila. “Aspoestertjie los net vir Arno uit!” sê sy gemaak kwaai.

Nelmari lag vir die meisies se verspottigheid en vertel hulle van haar jeugromanses. Hulle geniet dit toe sy met al die nodige stembuigings haar stories dramatiseer.

“Met al my romanses sou niemand seker kon droom dat ek alleen tussen my woorde en sinne sou eindig nie. Nou bou ek goeie verhoudings en happy endings op papier en niks flop as ek dit nie so wil nie!” sê Nelmari nadenkend.

Toe hulle later voor die agterdeur in die wintersonnetjie sit en tee drink, kry Mila ’n SMS van Cynthia. “Is die koek al op? Trek jy jou warm aan? Moenie laat rondloop nie, pasop vir die skelms. Ken jou maniere by die vreemde mense!” skryf sy en Mila lag en wys dit vir Nelmari.

Sy skryf terug: “Koek amper op, wat verwag jy met Kobus saam? Ek is warm en gemanierd en verlief!” waarop Cynthia dadelik antwoord: “Genade tog! Ek het gevoel daar is iets waaroor ek moet worry. Onthou jy maar die good girl speech!”

Sy vertel vir Nelmari en Helena van die keer toe Cynthia so geskok was toe sy sommer van seks gepraat het en gesê het sy is ’n goeie meisie, sy sal nie sommer onverskillige seks hê nie.