“Cynthia sê toe almal het die een of ander tyd onverskillig seks. Hang net af of dit voor of na jou troue is,” vertel Mila, waaroor die ander twee lekker lag.

Paul bel vir Helena en sê sy pa het ’n huis naby die skool, dus naby hulle, gekoop en Helena is vreeslik opgewonde daaroor. Hy praat ook met Mila, wat nie kan help om ’n bietjie jammer te voel dat Paul nie meer naby haar gaan bly nie. Sy gaan hulle geselsies mis. Sy dink ook aan haar ma, wat duidelik baie goeie vriende met oom Diederich geword het. As sy dit vir Paul sê, troos hy dadelik dat hulle sal kom kuier, maar Mila voel steeds ’n vae hartseer … Alles verander voortdurend, dink sy. Hoekom is die lewe tog so?

Teen vieruur sien hulle Mooi Mara verbygaan na die pier toe. Dan merk hulle eers die wolke oor die see op en dat die see baie onstuimig geword het. Nelmari kom die kombuis bekommerd binne en sê: “Hulle is laat. Nippertjie kom nooit later as vieruur in nie …”

Mila word skielik yskoud. Nie weer nie, bid sy in haar gedagtes, asseblief, Here, net nie weer nie! Ek wil asseblief net nie weer my pa se dood beleef nie! Sy het nou net vir Arno gekry en Kobus is haar kamma-boetie, dan nog Nippertjie, Salie en Blom, dink Mila en smeek weer: Nee, Here, asseblief! Bring hulle terug huis toe! Ek vra U so mooi. Mila is na aan trane.

Sy hardloop soos die wind agter Mooi Mara aan. Toe sy haar inhaal, sien sy haar bekommerde gesig. “Dink jy iets het gebeur?” vra sy uitasem en ontsteld vir Mooi Mara.

“Nippertjie kom nooit so laat in nie,” sê sy en tuur oor die see. Net toe kom Nelmari en Helena ook by. ’n Mens kan almal se bekommernis aanvoel soos ’n wolk wat om die wagtende groepie hang. Een vir een kom die ander mense van Sukkelvisbaai by. Almal lyk bekommerd. Die ander vissers is almal lankal terug, maar by navraag het niemand Nippertjie se skuit teëgekom nie.

Toe dit al sterk skemer is, sien hulle die boot aankom en almal lag van verligting. Toe die boot egter nader kom, sien hulle dat daar ’n groot fout moet wees. Almal aan boord lyk stroef.

“Ek wonder wat is fout?” sê Helena hardop en dan roep Mooi Mara: “Blom! Waar is Blom!?”

“Ja, Blom is nie by hulle nie …” sê Nelmari verdwaas.

Nippertjie kom met hangskouers aangestap en Mooi Mara hardloop hom tegemoet. “Waar is my kind, Nippertjie!? Waar is Blom!?” skree sy en hamer met haar vuiste teen sy bors.

“Sy’s weg … oorboord … Ons het ure na haar gesoek, ons moes naderhand maar tou opgooi. Dis niemand se skuld nie, Mooi Mara. Niemand! Die see was rof en sy is klein. Dit was ’n ongeluk …” Nippertjie en Mooi Mara klou aan mekaar en huil droewig in mekaar se arms. Die groepie mense staan soos ’n bondel droë hout op die strand rond. Niemand praat nie, die oomblik is te treurig vir woorde. Mila weet ongeag wat Nippertjie sê, sal hy hom ewig verwyt dat hy toegegee het dat Blom mag saamkom. Sy kry hom uit haar hart uit jammer daaroor.

Na wat soos ure voel, sê Nelmari: “Kom na my huis toe, dan gee ek julle ’n bietjie soet tee. Dis wat almal nou nodig het.” Nippertjie en Mooi Mara laat hulle soos blindes aan die hande lei. Arno en Kobus versorg woordeloos met die ander vissers se hulp die boot vir Nippertjie.