Mila help gou met die tee en haal ’n bak beskuit uit, maar niemand raak daaraan nie. Mila doen alles meganies, haar gedagtes allesbehalwe by die blou erdeteepot. Voor haar oë sien sy die krulkopdogtertjie met haar vetkryttekening. Hoe kan sy vir altyd weg wees? vra sy haarself en skud haar kop verdwaas.

Nelmari het die polisie op Clanwilliam laat weet. Hulle is gou daar en neem ’n verklaring by al die betrokkenes af. Dit is egter net roetine, want dit is gou duidelik dat hulle besef dit was ’n aaklige ongeluk.

Later kom Kobus en Arno ook daar aan en Mila gee vir hulle ook tee. Nippertjie bedank die seuns vir die hulp met die boot, maar niemand anders praat ’n woord nie.

Salie staan later op en sê: “Kom, Nippertjie, kom, Mooi Mara, ek vat julle huis toe. Julle sal maar moet huis toe gaan en netnou gaan lê. Wat anders?”

Voor hulle loop, vra Nelmari of sy nie eers vir hulle kos kan maak nie, maar hulle bedank daarvoor. “Nee, ek kan nie nou eet nie,” sê Nippertjie en Mooi Mara skud net haar kop beslis.

As hulle weg is, vertel Kobus en Arno oor en oor wat gebeur het. Dis duidelik dat hulle ook nog erg geskok is.

“Ek gaan ook nou huis toe. My pa wonder seker waar is ek,” sê Arno. Mila loop saam met hom uit en hy druk haar ’n oomblik teen hom vas. Dan draai hy om en stap huis toe.

Met sonsopkoms sien hulle haar daar. Mooi Mara sit op die strand digby die water met haar arms styf om haar gevou en tuur oor die see. Mila trek gou haar sweetpak aan en loop tot by haar waar sy op die sand sit. Mila gaan woordeloos langs haar sit met haar arm om haar skouers.

“My kind is by die Heer, maar ek wag vir die see om haar liggaam vir my terug te gee, sodat ek haar daar agter die winkel by my ma en pa en broer Dawid kan gaan begrawe,” sê Mooi Mara met ’n leë stem, baie hartseer, maar met berusting.

Mila dink aan die dag toe haar pa weggeraak het. Sy onthou die lang wag en die onsekerheid. Miskien moet sy ook nou begin aanvaar dat die Here dit so wou hê dat haar pa moes doodgaan. Sy wens sy was so tevrede met wat die Here besluit soos Mooi Mara.

“Sal sy uitkom?” vra Mila versigtig. Ek ken die see se dinge nie so goed nie, dink sy.

“Sy sal. Ek ken dié see,” sê Mooi Mara beslis. “Ek sal wag …” Daar sit sy toe met haar droë oë vir twee dae en twee nagte. Gedurende die dag het almal vir tye saam met haar gewag. Selfs Griet Voete het die winkel gesluit en by haar kom sit. Nelmari, Helena, Kobus en Mila het mekaar afgewissel.

Dit word vir Mila ’n tyd van vrede vind. Êrens tydens die wag dat die see Blom moet teruggee, word Mila se hart skoon. Sy luister na Mooi Mara se getuienis oor God se goedheid en sy word skoon. Sy is nie meer kwaad nie, sy voel net hoe die rustigheid in haar kom.