In die aand word daar ’n groot vuur gemaak en almal kom wag saam. Hulle sing ongelooflike liedere, soos “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie …” en “Aan U, o God, my dankgesange, U ek wil in my aandlied prys …” Dit is egter as hulle die tweede aand afsluit met “Nader, my God, by U” dat Mila se gemoed oorloop. Sy huil asof haar hart wil breek vir Blom en haar mense. Hulle het nie luukshede nie, net genoeg kos vir elke dag, dink sy. Nogtans word ’n kind van hulle weggeneem en hulle bly steeds eerbiedig teenoor die Here … Mila sug. “Hoe min moet ’n mens dan hê voor jy deur die oog van ’n naald kan gaan, Here?” vra sy moedeloos. Die vraag bly hang tussen haar en die Here.

Dit is egter ook die dag dat Mila die groot geheim van die lewe ontdek, want later die aand besef sy meteens die waarheid wat alle waarhede oortref. Sy weet dit is ’n antwoord wat die Here self in haar hart kom lê: Hierdie mense het Jesus as Herder, Helper en Verlosser. Hoeveel luukser kán jou lewe wees?

Op die tweede oggend is alles egter anders. Die hele Sukkelvisbaai se mense drom ’n ent hoër teen die strand saam. Die see het ’n klein dogtertjie met ’n vaalblou rokkie uitgespoeg. Wat hy geneem het, het hy vroegdag weer gegee. Mooi Mara het die liggaampie van haar kind uit die see teruggekry. Eers toe het sy weer gehuil, soos net ’n ma oor haar kind kan huil. ’n Paar dae tevore was sy nog trots oor sy kon tafel dek en groente skil en so mooi kon teken. Nou dra sy die mensie al huilende vir die laaste keer na haar huis, dink Mila en sy huil ook verdrietig oor die verlore lewe van ’n dogtertjie wat sy vir ’n kort rukkie geken het, met die naam Blom.

Die polisie is laat weet dat Blom se lykie op die strand uitgespoel het. Hulle kom haar later haal vir die nadoodse ondersoek. Hulle sê vir Nippertjie dat dit ’n paar dae sal neem, maar hulle sal haar seker so teen Dinsdag kan begrawe.

Almal besluit saam dat die weer so sleg en die stemming van die dag so hartseer is dat hulle die braai by Arno-hulle na Sondagaand sal skuif en dat almal die Sondagoggend saam kerk toe gaan. Arno fluister in Mila se oor dat hy darem steeds laatmiddag sal kom kuier en haar oë blink bly.

Almal ry Sondag met Nelmari se bussie Lambertsbaai toe. Die gesprekke keer maar altyd weer terug na die laaste paar dae se gebeure. Na ’n pragtige diens ry hulle ’n bietjie rond en oom Herman bied aan om vir hulle ’n ete by ’n restaurant te koop.

Hulle eet heerlike seekos en as hulle huis toe ry, sê Nelmari: “Ons braai seker nie nog vanaand na al daardie lekker kos nie?”

“Natuurlik braai ons. Die vleis lê al van gister af in die marinade!” sê oom Herman.

“Dan maak ons so! Die dae hier word vir ons ook min. Volgende naweek moet ons terug Kaap toe,” sê Nelmari. Mila en Arno kyk onseker na mekaar. Mila besef dit moet ook kom, maar sy wil nie hê dat die tyd so gou verbygaan nie!

“Ons sal mekaar mos darem sien?” sê Arno vraend.

“Ek hoop so!” sê Mila hartstogtelik.

“Ek het darem ’n motorfiets en ek sal Oktober hopelik my lisensie kry. Dan kan ek met my ma se motor rondry,” sê Arno.