“Dis darem so lekker om so baie bymekaar te kan wees, ons is bederf,” sê sy. Hy druk haar hand en sy skuif stywer teen hom aan.

Die aand kuier hulle om die braaivleisvuur. Mila help Arno slaai maak en Helena smeer broodjies. Kobus help oom Herman met die braai van die vleis. Na ete speel hulle Monopoly en kuier tot laat.

Dinsdagoggend staan Mila saam met ’n groepie mense van wie sy nie een vyf maande tevore geken het nie, om ’n graf. Die hele gemeenskappie is daar, maar sy is veral bewus van Nippertjie, Mooi Mara, Tjokkie, Mavis, ouma Lien, Salie, Griet Voete, Anna Pram, haar man, Koos Wyevoete, Bianca en haar boeties en sussie. Dan ook hulle klompie wat nie permanente inwoners is nie, Nelmari, Helena, Kobus, Arno en sy pa, oom Herman. Die paar ander mense ken sy van groet en sien, maar almal saam is omtrent veertig mense.

Dit is ’n koue, grys dag. Selfs die wind van die see af is onvriendelik. Dit lyk of dit enige oomblik kan stortreën. Sy hou Arno se hand styf vas terwyl die kissie in die sandgrond wegsak. “Dis darem so sad!” fluister sy in trane vir hom en hy druk haar hand, terwyl hy sy eie trane afvee. ’n Ander diens ’n paar maande gelede is nog vars in Mila se geheue. Sy sal altyd hartseer bly en terugverlang, maar sy het vrede met die Here gemaak dat hy moes gaan.

Nelmari het aangebied dat almal na die begrafnis iets by haar huis kan kom eet. Mila het dit omtrent Nelmari agtergekom: Sy is soms weird en, soos Kobus sê, ’n bietjie koe-koe, maar sy het ’n hart van goud. Wat sy vir ander kan doen, doen sy dadelik! Die mense hier op Sukkelvisbaai het almal hoë agting vir haar.

Mila, Helena en Kobus het almal ingespring en help kos maak. Die twee hoenderpasteie is uit die vrieskas gehaal en nog vleis en groente is gekook. Griet het ook bobotie en rys gemaak, Anna Pram ’n groot skottel vetkoekies en Arno se pa ’n bak aartappelslaai.

Nadat almal geëet het, word die skottelgoed opgewas en uiteindelik gaan hulle een vir een huis toe. ’n Groot stilte kom lê oor Sukkelvisbaai, waar elkeen in sy eie huisie die dag se hartseer gaan oordink. Selfs Griet Voete se winkel het toe gebly.

“Môre steek ek nie my kop by die kamer uit nie. Met al die dinge wat die laaste paar dae gebeur het, is ek agter met my roman. Hy moes al baie verder gewees het,” kondig Nelmari aan.

“Ons sal môre sorg dat ons soos muise is, met nie eers ’n piepgeluid uit ons nie!” belowe Kobus.

“Julle beter, anders nooi ek julle nooit weer saam nie!” antwoord Nelmari.

“Ek het nie geweet daar is ’n kans dat ons weer sal kan saamkom nie!” spot Kobus.

“Wat! Noudat ek bederf is met kitskinders, sonder geboortepyne, doeke en slapelose nagte! Daar is nie ’n kans dat julle volgende keer by die huis bly nie!” sê Nelmari en lag ’n kekkellaggie.

Die res van die week verloop baie soos die eerste week. Hulle speel elke dag krieket op die strand en ’n paar keer kom Mavis en Tjokkie ook saamspeel. Die aande verwyl hulle met speletjies of sit net rond en gesels.