Mila-hulle vat ’n paar keer ’n varsgebakte brood, poeding of vleisgereg vir Nippertjie en Mooi Mara. Hulle is stil en praat min, maar bly vriendelik en gasvry, wat Mila steeds verstom. Ook die laaste middag as hulle gaan groet, kry Mila steeds net bewondering vir die nederigheid waarmee hulle hulle kind se dood aan die wil van die Here toeskryf en Nelmari en die ander innig bedank vir al hulle hulp. Mila vra op die ingewing van die oomblik of Mooi Mara sal omgee as hulle vir haar ’n klompie klere aanstuur wat nie meer goed pas nie. Mooi Mara bedank haar uit haar hart en wil dadelik weet of daar regtig nie iemand anders is wat dit nodiger het nie! Wat ’n amazing vrou! dink Mila.

Die laaste aand trek Mila ’n warm baadjie aan, sit ’n mus op en gaan stap langs die see saam met Arno. Arno-hulle gaan eers die Sondag terug en sal dus nog ’n dag langer bly.

“Ek is bly ek het dié vakansie saamgekom. Kyk net wat sou ek gemis het,” sê hy en glimlag vir haar.

“Ek is ook bly ek het gekom, al is my lewe nog ’n bietjie deurmekaar,” antwoord Mila.

“Ons gaan kontak hou, nè?” vra Arno weereens en klink onseker.

“Daar is nie ’n manier wat jy nou van my ontslae gaan raak nie!” sê Mila en glimlag vir hom.

Arno soen haar asof dit die laaste kans is wat hy ooit gaan kry. Hulle staan lank buite die huis en gesels oor niks in die besonder nie. Albei is onwillig om te erken dat hulle vakansie saam nou verby is.

“Ek sal môre kom groet, oukei? Julle gaan mos nie so vroeg ry nie?” vra Arno.

“Eers na ontbyt. Kom eet gou saam met ons ontbyt!” sê sy nou opgewonde.

“Oukei, dit klink great!” antwoord Arno, bly oor nog ’n klein kuierkansie.

Vroeg die volgende oggend is Mila op en nadat sy aangetrek het, begin sy gou met die ontbyt. Sy kry nog worsies in die vrieskas, van al die laaste eiers maak sy roereiers en gebruik twee vir die klein pannekoekies wat sy bak. Sy maak ’n lekker pot filterkoffie. Toe almal opgestaan het en die tasse gepak is, is die tafel gedek en die ontbyt reg. Arno klop ook net op daardie oomblik aan die deur.

Die laaste gesels draai om die vakansie se gebeure en die nuwe kwartaal wat voorlê. Almal spot Kobus oor sy opgewondenheid om Nane weer te sien. Ook Helena spring nie ’n bietjie terg vry nie. Halfpad deur die maaltyd sê Arno: “Dankie, Nelmari, vir al die kos wat ek saam kon opeet. Jy en Helena en Kobus was so nice om my hier by Mila te duld. Ek het heeldag hier by julle rondgehang en jy het my nie verjaag nie!”

“Ag, Arno, dit was so lekker om jou hier te hê. Ek hoop jy gaan saam met Mila by my huis in Muizenberg kom kuier. Bring sommer jou pa ook saam, as hy daar rond is,” nooi Nelmari.

Na ontbyt was Mila en Helena die skottelgoed en Kobus en Arno help Nelmari om alles in die bussie te laai. Die laaste van die koekies en beskuit het Nelmari die vorige dag vir Mooi Mara gevat. Die bagasie is heelwat minder, maar die mense seker heelwat swaarder as toe hulle gekom het! dink Mila geamuseerd.

Die afskeid is vir hulle moeilik. Mila en Arno stap ’n entjie weg van die ander af en beloof weereens dat hulle mekaar gereeld sal kontak. Hy soen haar vir oulaas en dan moet sy gaan. Tjokkie en Mavis draf langs die bussie tot dit spoed kry en hulle wuif dan met mening. Mila sien deur haar trane hoe die figuur van Arno voor Nelmari se huisie al kleiner word. Sy bly waai tot sy hom nie meer kan sien nie.

Die vakansie op Sukkelvisbaai met al die hartseer en lekker is verby, dink sy droewig. Wat wag nou vir hulle almal? Sal haar lewe nóg vreemde draaie maak? Dan dink sy weer aan die klein dogtertjie met die vaalblou rokkie wie se lewe nooit weer draaie sal maak nie; dit was verby toe dit nog skaars begin het. Mila onthou die vetkryttekening in haar tas. Dit sal altyd vir haar ’n simbool van die lewe se onvoorspelbaarheid wees. Dit gaan ’n ereplek in haar kamer kry, dink sy treurig.